EEN van Solidariteit Helpende Hand se gewilde welsynswinkels, Ons Winkel, maak binnekort sy deure oop op Somerset-Oos en gaan poog om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

Lizan Burger is die eienaar van Ons Winkel Somerset-Oos, wat deel is van byna 60 soortgelyke skenkingswinkels van Helpende Hand landwyd.

Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word – van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware tot enigiets anders wat by die huis in die pad staan.

“Ons sien baie uit om ’n verskil in Somerset-Oos te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” sê Burger.

Ons Winkel neem hierdie items en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word.

Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik om dit te kan doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig en dien ook as werkskepping in die gemeenskap.

“Saam en in ’n jap-trap kan ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap maak. Stap bloot net by die winkel in en koop of skenk iets.

“Dit is die ideale manier om van oorbodige huisware ontslae te raak en te weet dit gaan reg aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” sê Burger.

Dié Ons Winkel maak sy deure op 10 Maart oop en is geleë by Beaufortstraat 7.

  • Vir meer inligting of om ’n skenking te maak bel Burger by 084 036 0209.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article