VEERTIEN Hofmeyrmanne het in en op ou bakkies, ’n kar én motorfietse, ’n sirkelroete na die Gariepdam aangepak.
In die konvooi was ds. Marius Barnard se groen Peugeot 1974 stasiewa die enigste motor. Die res was ’n verskeidenheid ou staatmakerbakkies soos ’n 1976 Datsun 1200, 1985 Toyota Hilux 2.4, 1987 Isuzu KB 2.5, V6 Land Cruiser, sowel as vier motorfietse.
Volgens Johan Vermaak, die logistieke be- stuurder van die uittog die Karoo in, het die groep avontuurlustiges teen 09:00 uit Hofmeyr vertrek na Steynsburg op die Strydpoort-roete.
“Vanuit Steynsburg het ons met die Rooster-fonteinpad na Bethulie gery. Daar het ons oor die brug gery na die Vrystaat-kant van die Gariepdam om by die Aventura-oord te gaan uitspan en oornag,” sê Vermaak.
“Allerlei slim planne is beraam om te verhoed dat die muskiete die manne pla.”
Die volgende oggend het die manne redelik vroeg opgepak en hul eerste stop was by die De Stijl Hotel, waar ’n heilsame ontbyt geniet is.
Vandaar is die ou rygoed se neuse in die rigting van Schoombee via Boesmanspoort gedraai om oor Knelhoogte en toe na Skietnek deur die Hantam terug Hofmeyr toe te ry.
Volgens Vermaak het al bakkies, sowel as die Peugeot en die motorfietse die roete goed hanteer en bestuurders en hul passasiers het die volgende dag teen sonsak in Hofmeyr aangekom.
“Vanselfsprekend was dit so lekker, dat dit ’n jaarlikse instelling sal word,” sê Vermaak.


