TOE Antoinette Harris–Coetzee, ‘n haarkapper van die Paarl, onlangs lees dat die droogte in die Noord en Oos–Kaap selfs plattelandse kerke se deure laat sluit omdat boere nie kan bekostig om kerk toe te ry nie, was sy geskok.
“Die boerderygemeenskap is uitgelewer aan die natuur en is bekend vir hul onwrikbare geloof in God. Dat kerkdeure sou sluit is ’n aanduiding van die desperaatheid van die situasie,” het Antoinette gesê.
Maar soos ’n boer maak ’n haarkapper ook ’n plan. Na nagte se wakkerlê het sy besef hoe sy ’n verskil wil maak.
Uiteindelik het ’n span van 15 vrywilligers, waaronder haarkappers, barbiere, ’n grimeerkunstenaar, fotograwe, ’n kok en bestuurders die langpad Karoo toe aangepak.
Dít om met hul talent en ervaring in hul onderskeie beroepe hoop te bring vir ’n droogtegeteisterde gemeenskap.
Die span se eerste stop was in Cradock waar Lèta Haarkappers hul salon vir die dag opgeoffer het. Hier is sowat 80 boervroue, boere en kinders deur die kundiges onderhande ge-neem. Die seëninge was wederkerig, want toe die gemeenskap van dié Samaritane verneem, is hulle bederf met egte Karoogasvryheid. Hulle kon weglê aan melktert, koeksisters, skilpadjies, roosterkoek en ’n stapel ander kontreilekkernye.
Komani–Karoo Express het gaan inloer terwyl die span besig was om hul skêre en grimeerkwassies soos towerstaffies rond te swaai in die Continental Haarsalon op Graaff-Reinet. Dit ten spyte van fase vier beurtkrag.
Denise Minnaar, ’n boervrou en landskapontwerper tussen Graaff-Reinet en Murraysburg sê dié af-spraak was ’n groot bederf en verrassing wat deur ’n vriendin vir haar ge-reël is.
Jolanda Meyer, fotograaf van die Paarl, glo “as mens goed lyk, dan vóél mens ook goed.”
Sy vertel dat daar al heelwat trane gerol het so tussen die gesels met boervroue oor hul unieke situasies.
“Ek het nie besef hoe emosioneel hierdie reis sou wees nie,” het Jolanda gesê.
“Tog sien mens hoop in hulle oë. En is dit goed om te hoor dat hulle ook weet die stedelinge daar buite staan nie koud teenoor die swaarkry van die Karooboere nie.”
Die span het uiteindelik ’n afstand van 2 000km oor agt dae afgelê. Hulle was in Beaufort–Wes, waarna hulle ook by Merweville en Laingsburg aangedoen het.
“Ons hoop om in die toekoms ook by die boere in die Noord-Kaap te kan uitkom,” het Antoinette gesê.
Volgens Jolanda was dit die vrygewigheid van borge wat uiteindelik die reis moontlik gemaak het,
Die honderde foto’s is geneem van stralende boeregesinne wat soos nuwe sikspense uit die salonne stap.
Vir meer inligting oor die Scissors on the Move-porjek bel Jolanda by 062 566 2312.
Besoek ook die Karoo Farmer’s Drought Outreach (Scissors on the Move) se Facebookblad om oulike videos van dié projek te sien.


