DIE Oos-Kaapse Middellande, wat onder meer dorpe soos Fort Beaufort, Adelaide, Bedford asook ’n groot gebied van die Katrivier insluit, is verheug oor die wydverspreide reën wat die afgelope tyd oor die streek uitgesak het.
Op Fort Beaufort is die reën ingelei deur ’n gietende wolkbreuk wat oor die dorp uitgesak het. Dit het gepaard gegaan met sterk wind en swaar donderweer. Verskeie strate was oorstroom en boomtakke het gebreek. ’n Motorafdak het ook omgewaai.
‘n Paar wonings in die omliggende woongebiede het ook deurgeloop.
Op Fort Beaufort het die reën sedert verlede week met kort tussenposes regdeur die afgelope naweek geval. Dit het eers die afgelope Dinsdag opgeklaar ná ’n welkome bui wat sedert Maandag sag en deurdringend uitgesak het.
Van die dorp se blom- en groentetuine is omskep in ’n lushof na die welkome reën. Die reën sal veral deur die streek se sitrusboere verwelkom word en die lemoenboorde is ná ’n lang tyd weer lowergroen.
Ten spyte van die goeie reën is die Katrivierdam wat Fort Beaufort van water voorsien tans slegs ’n kommerwekkende 38,8% vol. Verder staan Fort Beaufort se gemiddelde reënval vir Maart tans op 67%. Hoewel die streek nou soos ’n sprokieswêreld daar uitsien benodig die omgewing nog ’n goeie vloed om die damme en riviere weer vol te maak.
Intussen is die Koonaprivier by Adelaide nog horingdroog.


