Help Hetta het pakkies by die Laerskool Cradock en die Hoërskool Cradock afgelewer. Marietjie Maree (links), hoof van die Laerskool Cradock ontvang hier Helpende Hand pakkies van Hanlie Venter van Cradock se Solidariteit Helpende Hand-tak. Foto:VERSKAF


NADAT daar vasgestel is dat tiener meisies wat nie sanitêre ware kan bekostig nie, soms tot 52 skooldae ’n jaar mis, het Solidariteit Helpende Hand in 2015 met hulle Help Hetta-projek begin.

Met dié projek beoog Helpende Hand om meisie-wees makliker te maak, veral vir dié wat nie sanitêre ware kan bekostig nie.

“Ons kan en mag nie toelaat dat maandstonde in die pad staan van ’n meisie se opvoeding en waardigheid nie,” het Bernard Costerus, woordvoerder vir Cradock se tak, gesê.

Die projek het in 2019 sanitêre ware aan ongeveer 3 000 skoolmeisies in 100 skole regoor die land voorsien.

’n Help Hetta-pakkie word vier keer per jaar vanaf Helpende Hand se hoofkantoor versprei, terwyl Helpende Hand se landwye vrywilligers deurlopend produkte in hul gemeenskappe insamel en dit aan die Help Hetta-skole versprei.

Sedert die begin van die projek is al meer as R800 000 spandeer aan die Help Hetta-projek.

Aangesien dit ’n baie duur projek is, is bydraes in die vorm van sanitêre ware of ’n finansiële bydrae nodig. Dit sal verseker dat Help Hetta-meisies nie uitmis op skool nie en sodoende nie hul eie toekoms belemmer nie.

Vir meer inligting oor Help Hetta of om te hoor hoe om betrokke te raak, bel Bernard Costerus by 081 317 7442.

Om as ’n Help Hetta-ondersteuner aan te sluit gaan jou slegs R50 per maand uit die sak jaag. Enige bedrag kan ook as ’n donasie geskenk word om sodoende te verseker dat elke meisie die nodige sanitêre produkte kry wat sy nodig het.

Skenkings van sanitêre ware is ook welkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article