ALHOEWEL die gevreesde korona- virus teen gister nog nie Cradock bereik het nie, het voorsorgmaatreëls menige funksies, troues en sakebelange ingeperk.
Skole moes sluit, sportbyeenkomste is gekanselleer en baie inwoners se vakansieplanne is in die wiele gery. Troues moes uitgestel word en selfs kerkbyeenkomste is geaffekteer.
Die grootste terugslag is die kansellasie van die Hoër Landbouskool Marlow se o.13-rugbytoernooi wat vanjaar vir die 29ste keer aangebied sou word. Sowat 30 spanne van regoor die land, met meer as 500 rugbyspelers en hul families, is jaar-na-jaar ’n groot finansiële inspuiting vir die dorp, gastehuise en eetplekke.
Cradock se jaarlikse Kosfees, wat elke jaar ook besoekers van regoor die land, moes ook uitgestel word.
As gevolg van die kansellasies van hierdie twee groot geleenthede moes verblyf-eienaars der duisende rande wat vooruit vir akkommodasie betaal is, terugbetaal.
In stede van vol bespreekte kamers gaan hierdie plekke nou met leë kamers en geen inkomste nie, sit.
Volgens David Ker van Victoria Manor en die Tuishuise verwag hulle ’n verlies van 90% van hul inkomste en het hulle reeds van hul personeel op verlof gestuur.
“Ons sal seker vir drie of vier maande kan aangaan, maar daarna weet ek nie,” het Ker gesê.
Alhoewel plaaslike winkels tans floreer weens inwoners se paniek-aankope ter voorbereiding van die 21-dae inperking wat vandag teen middernag inskop, word hul voorraad uitgeput. Dié voorraad moet onder moeilike omstandighede weens die inperking weer aangevul word.
Cradock Provinsiale-hospitaal het ook ’n aantal reëls aangaande besoeke bekendgemaak. Een is dat iemand wat vermoed dat hy dalk die virus onder lede het, dit duidelik aan die wag by die hek moet stel. Slegs een besoeker per pasiënt word gedurende besoek-ure toegelaat en niemand mag saam met pasiënte wat opgeneem word, kom nie. Laasgenoemde geld egter nie vir mense bo 70 jaar oud of minderjariges nie.
Cradock se burgemeester, Noncebo Zonke, het by inwoners gepleit om by die reëls te hou.

