OUMA Tricia Groenewald van George het die afgelope drie weke in Graaff-Reinet gekuier, maar tyd vir stoepsit en teedrink was daar nie.
Ouma Tricia is die moeder van Gift of the Givers (GOTG) se geoloog/paleontoloog, dr. Gideon Groenewald (oftewel Oom Gideon Waterman, soos hy alom bekendstaan) en het op die rype ouderdom van 90 besluit om ’n kykie te kom kry in haar seun se merkwaardige lewe.
Die avontuur het afgeskop met ’n besoek aan boere in die Sutherland-distrik wat baatvind by GOTG en Save the Sheep se droogte ingrypinge, boorprojekte en voerverspreiding. Daar was ook tyd om blomme te gaan kyk in die Roggeveld.
Hierná het Ouma Tricia weinig rus ingekry, want vanaf Sutherland het sy saamgekom na Graaff-Reinet waar Oom Gideon tans met verskeie boorprojekte by skole en in die boerderygemeenskap besig is.
Ouma Tricia is op 90 nog baie avontuurlustig en wil niks van die opwinding misloop nie. Die GOTG-span, van die boormanne tot die bestuur, is verbaas oor haar lewenskrag en aansteeklike joie de vivre en góú het sy die bynaam “Generaal” verower!
Vir die GOTG-span begin die meeste oggende reeds om 06:00 werk en dikwels word gereedskap lank na donker eers neergelê. Dié lang ure het ouma Tricia egter geensins geïntimideer nie en sy was dag en nag op haar pos, kierie in die hand.
“Ek loop sonder dié ding by my huis, dis net om my seun gelukkig te hou dat ek maak of ek die kierie nodig het,” skerts Ouma Tricia.
Haar kuier duur nou al langer as wat sy beplan het en daar moes ’n tweede keer voorskrifpille by Merino Apteek gehaal word.
Die apteker het opgemerk dat sy,” Darem baie op-en-wakker en helder van verstand vir haar jare is”.
Dr Lucinda Booysen, wat met groot sorg seker maak dat ouma Tricia se beenwond mooi herstel sê, “Sjoe, Ouma wip nog soos ’n jonge dame op die ondersoektafel.”
Op die vraag wat vir Ouma Tricia ’n hoogtepunt die afgelope drie weke was antwoord sy: “Daar is te veel om te noem. Ek wil nou vir my ’n mooi foto-album laat maak sodat ek elke dag weer daarna kan kyk en dit vir almal kan wys wat so nuuskierig is om foto’s van my avontuur te sien.”
Soos haar seun, is ouma Tricia ’n diep gelowige mens.
Die feit dat sy Vrydag tydens ’n funksie by Narsingstraat Primêr onder die eregaste getel het en die hand van minister Barbara Creecy geskud het, weeg nie vir haar meer as die feit dat sy Saterdag saam met die res van die GOTG-span kospakkies en omgee kon uitdeel in Steytlerville se informele nedersettings nie.
Sy was ook baie opgewonde om haar seun op ’n paleontologiese ekspedisie in die Schoombee-distrik te vergesel.
Dat sy egter dankbaar-trots op haar seun is, kan mens nie mis in die sagte kyk van haar oë nie.
Een ding is seker: Dié dapper “Generaal” is ’n vrou met yster in haar are en die aftree-oord gaan hulle hande vol hê as sy eersdaags terugkeer George toe. Ouma Tricia sal op 19 November haar 91ste verjaardag vier.


