Die geliefde skoolhoof van Narsingstraat Primêre Skool, Trevor Moos, is oorlede nadat hy met COVID-19 gediagnoseer is. Foto: Verskaf


NARSINGSTRAAT Primêre Skool is vandeesweek in rou gedompel ná die afsterwe van hul geliefde skoolhoof, Trevor Moos (56).

Moos is op 30 September met COVID–19 gediagnoseer, en was die laaste twee weke voor sy dood in die Netcare Greenacres Hospitaal in Port Elizabeth.

Richard Swartz, adjunkhoof by Narsingstraat sê, “Dit was vir ons ’n groot skok toe ons Saterdag omstreeks 12:00 die tyding ontvang dat Trevor nie meer met ons is nie.”

“Trevor was ’n uitstekende leier en hy het nog baie toe-komsplanne vir die skool gehad.”

Swartz ken Moos reeds sedert 1991 toe hulle eers as opponente en later as spanmaats op die krieketveld saamgespeel het.

“Trevor was eers sekretaris en later voorsitter van die United Krieketklub. Hy was nie net plaaslik en in die distrik bekend en geliefd nie, maar eintlik landwyd. Trevor was die bestuurder en ek die afrigter van die Oostelike Pro-vinsie Krieketklub en ons het landwyd saamgereis,” het Swartz gesê.

Volgens Swartz was Moos nie net ’n goeie administrateur en kollega nie, maar ’n opregte vriend en ’n geliefde vader- figuur.

“Hy was ’n familiemens, nóú betrokke by gemeentelike aktiwiteite by die NG Gemeente Kroonvale en ’n regte mense-mens,” sê hy.

Volgens Carol Meshilinie, ook ’n adjunkhoof by Narsingstraat, was Moos ’n baie deeg-like mens en betroubare kollega.

“Ek het my verslae en no-tules altyd eers na hom toe ge-neem en dan het hy geduldig met rooipen in die hand al my foute vir my onderstreep. Ek sal dit altyd van hom onthou. Wie gaan nou my notules regmaak?,” sê Meshilinie.

“Meneer Moos het altyd ’n baie groot liefde vir die skool en vir sy kinders gehad en het altyd die belange van die skool voorop gestel.

“Ons personeel en leerders gaan hom verskriklik baie mis, veral vir sy pittige sêgoed en skerp sin vir humor.”

Personeel en leerders van Narsingstraat Primêr was baie hartseer om van Moos se afsterwe te verneem.

Plaaslike pastoor André Brink van die Child Evange-lism Fellowship het Maandag-oggend ’n vertroostende boodskap by die skool kom lewer.

Verskeie topbestuurslede van die distrikskantoor van onderwys het reeds hul simpatie betuig.

Moos laat sy vrou Elsebe en twee kinders, Trevor (19) en Chloe (17) agter.

  • ’n Gedenkdiens word vanaand 18:00 in die NG Kerk Kroonvale vir Moos gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article