“Ek wil trots wees op my dorp. Daarom het ek begin dink hoe kan ek help om ontslae te raak van al die swart sakke wat oral rondstaan.”
Só sê Philander Karelse van Molteno, wat sy eie vullisverwyderingsbesigheid vroeg in Desember begin het. Hy glimlag van oor-tot-oor, want hoewel hy slegs ’n geringe bedrag per vrag vra, ry hy nou daagliks vol vragte aan na die munisipale vullisterrein.
’n Munisipale vragmotor vanaf Sterkstroom is veronderstel om daagliks die sakke te verwyder, maar as dit nie gebeur nie, is die dorp oortrek van swart en groen sakke propvol huishoudelike- en tuinvullis.
Karelse het ook ’n probleem gehad in woonbuurte waar rondloperhonde die sakke oopskeur en papiere en gemors gevolglik die hele area vol waai.
Inwoners het nie almal toegang tot voertuie wat vullis kan wegry nie.
Navrae op sosiale media vir só ’n diens het Karelse die gaping in die mark laat sien en hy het dadelik planne beraam.
Karelse is duidelik ’n man met ’n plan, en sy plan werk, want die verandering in die dorp is duidelik sigbaar.
“Ons is so dankbaar om die volgelaaide bakkie oral in die dorp te sien ry,” sê Rosa Cloete, gastehuiseienaar op die dorp.
