Die Kosfees soos deur Sarina Engelbrecht vóór COVI

Die Kosfees soos deur Sarina Engelbrecht vóór COVID-19 afgeneem.

Cradock se sewende Kosfees het vandag, 23 April begin met ‘n reeks bedrywighede, insluitende verskeie werkswinkels.

Vandag se verrigtinge sal met ‘n karnival-tipe maanligmark in Markstraat afsluit.

Joe van Lingen met musiek, zumba en gimnastiek, asook twee manne op stelte sal te sien wees, terwyl daar heerlike kos saam met ‘n wynproe-geleentheid geniet kan word.

‘n Uitstalling van twee talentvolle plaaslike skilders – Petro Michau en Annari Oosthuizen – wat in die Viccoria Manor-hotel plaasvind, sal die hele naweek besoek kan word.

Van die interessantste klasse wat bygewoon kan word, is ‘n pottebakkerskursus deur Elize van Aardt op die plaas Mulberry Grove; “Forage with Niki” oor eetbare veldplante, Broodbak met Lani en Louzel op Waterval-plaas, “Cooking and Healing with medicinal plants” deur Barbara Weits, ‘n basiese baristaklas deur Dwayne de Beer en kunsklasse deur Annari Oosthuizen.

Avontuurlustiges kan met ’n met binneband op die rivier ry, hul energie opgebruik met “Big Swing” (net vir baie brawes) en verfbal terwyl daar met sononder Vrydag ‘n rit saam met Eagle Tours na Oukop sal wees.

Saterdag is die jaarlikse Pekan-wedlope deur die Pekanboorde op Sanctuary.

Saterdag se groot plaasmark, waar 34 kosstalletjies verwag word, belowe groot pret en heerlike smul. Uitstallings sal fokus op herwinning en jong entrepreneurs. Kinders kan ook kolwyntjies versier, deelneem aan gesigverf, poppekas, boeresport, springkasteel en nog baie meer.

Saterdagaand sal vyf gewilde Cradock-restaurante spesiale feesmenu’s aanbied terwyl Jenkins Creek se plaasrestaurant ‘n rustige, ontspanne maaltyd met wyn, musiek en ‘n minimark Sondag sal aanbied.

Die Kosfees sal onder streng COVID-19-regulasies plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article