Jacques Jordaan (tweede van links) saam met sy seu

Jacques Jordaan (tweede van links) saam met sy seuns Shaun (links) en Jaco, sy vrou Mirie en dogter Adel Grobbelaar. Foto: Facebook

Nuus dat Jacques Jordaan (64) – een van Cradock se bekendste sakemanne – oorlede is, het soos ‘n veldbrand deur die dorp versprei. 

Die woorde “’n groot boom het geval” is verskeie kere op sosiale media gesien.

Jordaan was ‘n Cradock-seun wat op die dorp skoolgegaan en grootgeword het. Almal het hom geken en hy was bekend daarvoor dat hy sy besigheid, CAT Motors, van die grond af opgehou het. CAT Motors is ‘n Isuzu-handelaar op dié dorp.

Jacques Jordaan saam met sy vrou, Mirie. Foto: Fac

Jacques Jordaan saam met sy vrou, Mirie. Foto: Facebook

Die besigheid was vir omtrent 40 jaar in Kerkstraat op die dorp, maar het 10 jaar gelede na ‘n ruim en moderne perseel met meer as 20 personeellede langs die pad na Middelburg verskuif.

Volgens sy personeel was hy ‘n “fantastiese baas en mentor wat alles vir die besigheid en sy personeel sou doen”.

Hy was ook bekend vir sy bydraes in die plaaslike gemeenskap en was een van die eerstes om ‘n groot Isuzu-trok te borg om die Cradock Gemeenskapsforum te ondersteun in hul pligte om die dorp skoon te maak en op te hef. Jordaan het ook plaaslike liefdadigheidsorganisasies ondersteun en het jaarliks nuwe bakkies tydens die Cradock-kanomarathon verskaf vir die vervoer van media, buitelandse roeiers, noodhulpbystand en meer.

Hy het ook die plaaslike karavaanklub begin, was ‘n lid van die gholfklub, asook van die Mansklub op die dorp.

Jordaan was ten tyde van sy afsterwe in ‘n hospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth) waar hy ‘n operasie aan sy hart ondergaan het. Hy het aan komplikasies wat daarop gevolg het, beswyk.

Hy word oorleef deur sy vrou Mirie, twee seuns, Jaco van Port Elizabeth en Shaun van Cradock, wat saam met sy pa by CAT Motors gewerk het. Sy dogter Adél is die eggenote van ds. Jan Grobbelaar van die Cradock Oos-gemeente. Jordaan laat ook ses kleinkinders, waaronder ‘n drieling, agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article