Vuyani Vice, Ben Mtlizimbi en Essie Esterhuizen by Ysterkat. Foto:WILNA DE KLERK


ESSIE is eintlik ’n kabinetmaker van beroep, maar nou is hy agter Ysterkat se stuurwiel om saam met Vuyani en Ben hul bes te doen om Cradock se strate skoon te hou.

Dié driemanskap is deel van Cradock Sake- forum se dorp-skoonmaakprojek en Ysterkat is die bakkie wat hulle inspan om hul werk te doen.

Essie of dan Josias Esterhuizen (59), het sestien jaar gelede vanaf George na Cradock getrek en is die afgelope drie jaar betrokke by die sake- forum se dorp-skoonmaakprojek.

Hy en sy twee regterhande, Vuyani Vice en Ben Mtlizimbi, werk op Maandae, Woensdae en Vrydae op die dorp. Die twee ander weeksdae werk Essie by ’n gasteplaas in die distrik.

“Ons ry gemiddeld vier na vyf vragte vullis per dag weg na die stortingsterrein. Elke vrag bestaan uit nege wolsakke vol gemors,” sê Essie.

Dit is verskriklik hoe sommige dorpenaars mors en bloot hulle swartsakke of vullis op oop erwe aflaai.

Essie sê baie mense wil nie na die vullis- terrein buite die dorp ry nie omdat die pad so sleg is.

“Ja, die pad is sleg, maar is beter as party dorpstrate. Maar omdat die mense nie wil uitry om self hul vuilgoed te gaan aflaai nie, gooi hulle dit baie keer in enige oop erf.

“Elke maandeinde is dit nag, want dan word daar baie gekoop en baie in die dorp gemors.”

Die driemanskap maak ook gereeld die kanaal uit die Groot Visrivier na die dorps-damme skoon, sowel as die leivoor na die erwe in die dorp wat waterregte het.

Die sakeforum het onlangs 39 vullisdromme op strategiese punte op die dorp geplaas met die gedagte dat inwoners dit eerder sal gebruik as om hulle vullis langs strate of op oop erwe te gooi. Dit is ook die driemanskap se werk om dié dromme leeg te maak.

Essie sê dat hy, Vuyani en Ben daarvan hou om die dorp skoon te sien en dat inwoners se vriendelikheid en dankbaarheid bemoedigend is.

“Mense waai baie keer vir ons of gee vir ons ’n thumbs up.”

“Ek en Vuyani en Ben wil graag vir Lou Venter en die sakeforum dankie sê dat ons dié werk kan doen om te help om ons dorp skoon te hou,” sê Essie.

  • Die driemanskap is in diens van die Cradock Sakeforum en versoeke, om vragte vullis vir inwoners weg te ry, moet met die voorsitter van die forum, Lou Venter gereël word by 048 881 2637.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article