Inskrywings vir die 38ste Groot Visrivier-kanomarathon is amptelik oop.
Organiseerders vertrou dat daar groot
belangstelling vanjaar sal wees, aangesien die geleentheid verlede jaar as gevolg
van Covid-19 gekanselleer moes word.
Die marathon, wat vanjaar vir 8 en 9 Oktober beplan word, het in 1982 ‘n skamele begin gehad toe slegs 77 deelnemers en 52 bote opgedaag het vir die
tweedaagse wedvaart oor 83 kilometer.
Oor die bykans 40 jaar van sy bestaan het die Visrivier-kanomarathon – wat as een van
die opwindendste in Suid-Afrika én die buiteland beskou word – al tot 1 000 deelnemers gelok.
Die Suid-Afrikaanse dubbelkano-kampioenskappe sal by dié wedvaart in Oktober beslis word. Daar word gehoop dat dit ‘n trekpleister sal wees om van die groot kanonne in die
roeiwêreld na Cradock te lok.
Deelnemers spring op die eerste dag van die
marathon uit Grasrugdam weg met ‘n skof van 47 kilometer tot by
Knutsfordbrug. Die volgende dag se skof begin dan by Knutsfordbrug tot by die eindpunt by
Cradock-sportgronde.
Voorsiening word
gemaak vir K1-, K2- en selfs die lywige K3-kano’s met deelnemers van oral uit die
buiteland wat gewoonlik saam met baie entoesiastiese roeiers van Suid-Afrika
deelneem.


