Die belange van wildboere in die Oos-Kaap
kry nou indringende aandag nadat ‘n tak om na hul belange om te sien op 5
Augustus in die provinsie gestig is.
Volgens John Hurter, waarnemende
provinsiale voorsitter van Wildlife Ranching
South Africa (WRSA) in die provinsie, is hul vernaamste doel om wildboere
en gemeenskappe betrokke in die bedryf, by te staan in krisistye en nood. Dit bied ook geleentheid aan ander wildboere
wat in ‘n posisie is om hulp te verleen, ‘n weg om medeboere en gemeenskappe by
te staan.
Hurter het verduidelik dat wildplase en -reserwes in die Oos-Kaap ‘n oppervlak van bykans een mijoen hektaar beslaan
en dat ‘n verdere vyf miljoen hektaar van privaat en kommunale landbougrond ook
betrokke is by wildboerdery in die provinsie. Volgens hom is daar 48 000 mense op hierdie plase of reserwes in diens
met ‘n verdere 60 000 verwante werkgeleenthede in die landelike gemeenskappe
van die gebied.
“Dele van die Oos-Kaap is weereens as
droogte rampgebied verklaar en baie wildplase en privaat wildreserwes trek
swaar onder die langdurige droogte. Gedeeltes van die Sarah Baartman-distrik is platgeslaan deur droogtes van ses of sewe jaar toe ver ondergemiddelde reënval ontvang is,” het Hurter gesê.
Hy het verduidelik dat natuurlike weiding so
te sê glad nie meer bestaan nie en dat wildbokke nou ook gevoer moet word om
hulle behoud te verseker.
“Derduisende wildsbokke word bedreig en die
omvang van hierdie ramp sal binne die volgende weke duideliker word. Boere in die westelike deel van die Oos-Kaap
het reeds afgeskaal na slegs hul kern kuddes om hopelik weer mee te begin wanneeer die droogte breek. Tradisionele droogtehulp strek nie wyd nie en
daar word hoofsaaklik op ‘hoofstroom’ landbou gefokus, met die gevolg dat
wildboere maar aan die kortste ent trek,” het hy gesê.
WRSA is spesiaal gestig om hierdie boere by
te staan. Wildboere in ander gebiede het
reeds hulp aangebied en daar word vertrou dat mede-boere wat nie so erg deur
droogte geknel word nie, ook hul hulp sal aanbied.


