Hier is (van links) Henry van Niekerk (plaasbestuurder op Marlow), Dirkie Visser (eienaar en direkteur van Cradock Saad), Wilhelm Jordaan (lid van Marlow se bestuursraad) en Pieter Moller (seremoniemeester van die prysuitdelingsfunksie). Foto:VERSKAF


30 TON mielies per hektaar is haalbaar met die nuwe tegnologie, nuwe kultivars, regte kuns-mismengsels en die regte mikros wat volhoubaar is vir die grond.

Dit is die mening van Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad en organiseerder van die Cradock Dertig Ton Mielieklub. Dié klub se jaarlikse prysuitdeling is Vrydag in die Lodge op Buffelshoek buite Cradock, gehou.

Volgens Visser is die doel van die kompetisie om boere uit te daag om die hoogste tonnemaat mielies moontlik op hul plase te verbou.

“Toe daar sewe jaar gelede met die kompetisie begin is, het dit gelyk of 30-ton per hektaar ’n onbereikbare droom is, maar die hoogste opbrengs was vanjaar reeds oor die 26.95 ton,” sê Visser.

Die kompetisie was oorspronklik vir die eerste vyf jaar bekend as die die Twintig Ton Mielieklub totdat dit in 2019 nodig was om met die Dertig Ton Mielieklub te begin. Boere het toe reeds die 23,8 ton per hektaar bereik en in die jaar 2020 is 25,79 ton behaal.

“Dit is nie dat 30 ton maklik bereikbaar is nie, maar ons het ons beywer om net oor die 25 ton per hektaar te kom,” sê Visser.

Die kompetisie word vir beoordelingsdoeleindes in ’n Suid- (plase suid van Cradock) en ’n Noord-streek (noord van Cradock) verdeel.

Vanjaar se wenners in die Suid-streek was JP le Roux wat 26.95 ton per hektaar gelewer het. In die tweede plek was Leon Ontwikkelings met 19.85, gevolg deur Wouter Heyns met 19.52. All drie hierdie boere is van Cradock.

In die Noord-streek het Marlow Landbouskool voorgeloop met 23.10 ton, gevolg deur Kobus Marais van Hofmeyer met 22.95 ton en Flippie Marais, Cradock, met 22.62 ton.

Visser het tydens die Mielieklub se jaarlikse prysuitdeling gesê hy is positief dat die 30 ton nou haalbaar is.

“Vanaf 2014 was die hoogste tonnemaat slegs 19.91 ton per hektaar. In 2018 was die opbrengs 23.92 ton en in 2019 is met die Dertig Ton Mielie-klub begin en ek is trots daarop dat in 2021 daar reeds ’n opbrengs van 26.95 per hektaar behaal is.

Dit is ’n rekord opgestel deur JP le Roux van Cradock.

Pieter Moller was die seremoniemeester tydens die jaarlikse prysuitdeling. Die borge van die kompetisie, BASF, Cradock Saad, Metson, Bayer en Pannar Saad word hartlik bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article