Reëlings vir vanjaar se Visrivier-kanomarathon oor die naweek van 8 en 9 Oktober is goed op dreef en 340 roeiers het tot dusver aangedui dat hulle gereed maak om die tweedaagse roeiwestryd oor 83 kilometer op die Groot Visrivier by Cradock te kom aandurf.

Groot belangstelling heers vanjaar in die afdeling vir K2-bote, aangesien die Suid-Afrikaanse K2-kampioenskappe by hierdie geleentheid beslis sal word.

In hierdie afdeling word baie verwag van Hank McGregor wat goed bekend is met die Vis se berugte Keith’s Flyover, verskeie laagwaterbruggies en keerwalle. Hy gaan vanjaar saam met Hamish Lovemore roei.

Volgens die organiseerders kan McGregor en Lovemore sterk kompetisie verwag van Clint Cook en Wayne Jacobs, Jacques Theron en Brendon van der Walt, Murray Starr en Steward Little en andere.

In die dames-afdeling word verwag dat Jenna Nisbet (voorheen Ward) en haar roeimaat, Saskia Hockly, wat nog ‘n junior roeier is, tussen die eerste drie bote oor die wenstreep sal wees. 

Spanne soos dié van Jordan Peek en Pippa McGregor en Bridget Hartley en Christie McKenzie behoort kort op hul hakke te wees.

‘n Totaal van 42 roeiers in K1’s het reeds ingeskryf, terwyl daar ook 12 van die lywige K3’s op die rivier te sien sal wees.

Internasionale roeiers van onder meer Spanje, Zambië, Australië en Portugal het reeds hul inskrywings bevestig.

Christie Mackenzie (voor) en Bridgitte Hartley gaan vanjaar aan die kanomarathon deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article