DIE Oos-Kaapse dorpie Adelaide is in rou gedompel nà die skielike heengaan van een van sy geliefde verpleegsters, die 60-jarige Siena Mary Douglas.
Luidens haar dogters het Siena op die dag van haar afsterwe nog vir diens by haar werkplek, die Adelaide Provinsiale Hospitaal, aangemeld. Sy is later huis toe gestuur toe sy gesê het sy voel nie gesond nie. Etlike ure daarna het sy by haar woning beswyk, vermoedelik aan ’n hartaanval
Siena is op 30 Maart 1961 op Bedford gebore waar sy haar primêre onderrig by die Saint Columbus Katolieke skool op diè dorp ontvang het. Haar hoërskoolopleiding het sy by die Holy Rosary Kloosterskool op Cradock ontvang waar sy ook gematrikuleer het.
Nadat sy by ’n paar besighede gewerk en ook vir ’n tydperk onderrig by die Glen Thorne plaasskool gegee het, het sy verder studeer en in 1992 by die verpleegpersoneel van die Adelaide Hospitaal aangesluit.
Op 2 April 1981 is sy getroud met Eddie Douglas. Drie dogters, Charlene, Myrtle en Yvette, is uit diè huwelik gebore.
Die dogters sê hul moeder was baie geselserig, lief vir grappe en sy was versot op RSG se stories.
“Ons ma het altyd die ekstra myl vir haar medemens gestap. Sy was ’n mensemens en voorwaar die Florence Nightingale van Adelaide Hospitaal.”
Vele van haar voormalige pasiënte het vertel hoe gewild sy veral in die hospitaal se kraamsaal was. Daar sou sy babas liefderyk versorg om hul moe-ders geleentheid te bied om ’n paar uur se slaap in te kry.
Sy het self inwoners van omringende dorpe by Adelaide Hospitaal geregistreer om hul COVID-19-inspuitings te kry.
Honderde meelewingsboodskappe op die Facebookblad van Adelaide se Kennisgewingsbord, getuig van hoe geliefd Siena onder haar kollegas en in haar gemeenskap was.
Siena se as word Saterdag by haar ouers se grafte op Bedford gesit. Sy laat haar eggenoot, drie dogters en ses kleinkinders na.



