Tennisspelers van die Hoër Landbouskool Marlow het aan die Inter Africa-tennistoernooi op Bethlehem deelgeneem en die twee spanne vol jong talent het met oorgawe ge-speel en goeie spel gelewer.
Marlow se A-span het in die A-afdeling gespeel en was ingedeel saam met die Hoërskool Witteberg, die Hoërskool Sentraal en die Afrikaanse Hoër Seunskool. Die Wolramme speel gelykop teen Witteberg en verloor die ander twee kragmetings.
In die uitspeelwedstryde klop Marlow A-span vir Hoërskool Ermelo en reken die tweede keer af met Witteberg. Marlow eindig vyfde uit die agt spanne in dié afdeling.
Marlow se B-span was ingedeel saam met die Hoërskool Senekal (A-span), die Hoërskool Pietersburg (A-span) en die Hoërskool Frankfort (B-span). Marlow reken af met Frankfort en verloor die ander twee wedstryde. In die uitspeelwedstryde klop die Wolramme Hoërskool Voortrekker (B-span) maar buig die knie teen Frankfort (A-span).



