Dié inheemse koraalaalwyne beklee die Karoo soos ’n regte “Lady in red” en staan ook bekend as die Vaalblaaraalwyn, Gladdeblaaraalwyn, Blouaalwyn of Makaalwyn. Foto:ELSABé GROENEWALD


REISIGERS wat die afgelope twee weke die karoopaaie aangedurf het, is beloon met ’n asemrowende gesig van plate rooi blomme aan die some van rantjies en hoofweë.

Dié inheemse koraalaalwyne be-klee die Karoo soos ’n regte “Lady in red” en staan ook bekend as die Vaalblaaraalwyn, Gladdeblaaraalwyn, Blouaalwyn of Makaalwyn en word algemeen in die Suid- en Oos-Kaap aangetref.

Die wetenskaplike naam Aloe Striata verwys na die langwerpige are op die blougroen blare van die plant.

Vir die besige tuinier is dié aalwyn ’n ware staatmaker, want die stewige vetplant is immergroen, meerjarig, droogtebestand, en kan aanpas in ‘n omgewing wat wissel van seevlak tot so hoog as 2 100m bo seespieël.

Koraalaalwyne floreer in goed-gedreineerde grond en kan selfs souterige toestande verdra. Hier in die Oos-Kaap groei die Koraalaalwyn veral in welige plate op grondsoorte wat voorkom op gesteentes van die Ripon Formasie van die Ecca Groep. Hierdie skalies is deel van ‘n oerseebed wat sowat 320 miljoen jaar gelede tussen Cradock en Olifantskop bestaan het.

As jy gedurende die laatwinter en vroeë lente met ’n ontploffing van rooi in jou tuin wil spog, plant Koraalaalwyn in groepe of alleen in ‘n pot. Hou maar ‘n tuinbankie gerieflik naby sodat jy nektarliewende insekte en voëls soos suikerbekkies kan dophou wanneer hulle by dié deurryrestaurant kom aandoen.

Koraalaalwynblare sal blouer vertoon in skaduryke hoekies, en pienker as dit in volson groei. Vir omgewingsbewustes is dit ook die ideale potplant om ‘n kantoor in ‘n “groen” spasie te omskep. Om die pienk blaarrande te aksentueer, plant dit in ‘n pienk of rooi pot wat genoeg spasie bied – die plant word sowat 45cm hoog en 60cm breed.

Anders as ander aalwyne is Koraalaalwyne tuiniershande ge-nadig, want die blare spog met gladde pienk rande sonder tande!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article