Vyf mense is gisteraand vir veediefstal in hegtenis geneem en 15 skape is tussen Cookhouse en Paterson terug gekry.
Volgens Kaptein Bradley Rawlinson, polisiewoordvoerder, het Cookhouse se sigbare polisie, misdaadvoorkomingseenheid, sowel as Cradock se veediefstaleenheid gereageer op inligting van beweerde veediefstal langs die N10, tussen Cookhouse en Paterson.
“Om sowat 22:00 op Dinsdag, 5 Oktober het polisie ‘n wit Toyota Quantum met ‘n sleepwa op die N10 voorgekeer. Met verdere ondersoek is daar 15 skape op die sleepwa gevind.
“Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 23 en 39, is in hegtenis geneem en van veediefstal aangekla. Hulle sal binnekort in die Somerset-Oos se landdroshof verskyn,” het Rawlinson gesê.
Cookhouse se stasiebevelvoerder, Lt. Kol. D. Ferreira het die flink optrede van die betrokke polisielede geprys.



