CRADOCK Kankersorg het ’n goeie jaar agter die rug danksy verskeie fonds-insamelingprojekte wat met welslae aangebied is.
Dié kankersorg is ’n privaat organi-sasie en ontvang geen ondersteuning van staatsinstansies nie. Hulle maak staat op die goedhartigheid van die gemeenskap en sakelui.
Geld is nodig vir die salaris van die kankersorg se gekwalifiseerde verpleegsuster, brandstof, lewensmiddele vir pasiënte en om treinkaartjies te koop vir pasiënte wat behandeling in Gqeberha moet ontvang.
Lede van die kankersorg ondersteun kankerlyers nie net finansieël en ge- neeskundig nie, maar ook emosioneel en op vele ander vlakke.
Een van vanjaar se hoogtepunte was ’n pretdraf wat by die Moo-padstal 10km buite Cradock, plaasgevind het.
Daar was ongeveer 100 deelnemers wat die 5km of 10km afstande in die natuur en tussen pekanneutbome aan-gepak het. R6 630 is met dié pretdraf ingesamel.
Die span drawwers van Marlow Landbouskool het hul deelname opge-dra aan ’n kollega Amanda Engelbrecht, wat kort voor die pretdraf weens kanker gesterf het.
’n Koningingrootte laslappie-deken, handgemaak deur die vroue van Hofmeyr se Hugs of Hope, word tans uitge-loot om nog geld vir Cradock Kankersorg te help insamel.
Nuwe bestuur
Die nuwe bestuur van die Cradock Kankersorg is: Marelise Coetzee en Marelise Michau (gesamentlike voorsitters); Charlotte Laas (ondervoorsitter); Rihan en Sorita Bezuidenhout is die sekretarisse; Gerda Marais (tesou-rier); Joan van Heerden (verpleegkundige); met addisionele lede Alida Erasmus, Theuns en Susarah van der Nest.



