Foto: Facebook (Marzahn Botha)

Fotojoernalis Marzahn Botha se boek Lafenis in die Droogte is veel meer as ’n versameling asemrowende foto’s en artikels oor die droogte en sy mense. Dit is Africana, wat die essensie van swaarkry en hoop in die hart van die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap vasvang.

Haar foto’s en dokumentering van die langdurige droogte is oor die tydperk van 2014 tot 2020.

“Oor dié tydperk het ek seker maklik meer as 15 000km gery,” sê Botha.

Van die plekname waar sy die droogte met haar kameralens vasgevang het, rol op ’n mens se tong. Dit is Lekkersing, Laingsburg, Kamies-kroon, Kenhardt, Garies, Goodhouse en Graaff-Reinet.

Getrou aan die titel bevat Lafenis in die Droogte talle verhale van vasbyt en bly glo, en Botha noem met dank in die slot dat sommige van die plekke wat sy besoek het, intussen plek-plek reënverligting ontvang het. Wetenskaplikes glo steeds dat selfs al kry ons vanjaar dalk bietjie meer reën as voriges, dit maar bloot ’n nat seisoen binne ’n steeds dorre siklus is wat nog lank nie sy volle verloop geneem het nie.

Hoe dit ookal sy, Lafenis in die Droogte is ’n unieke stuk geskiedskrywing wat meesterlik in ink en lens vasgevang is, saamgevat in ’n uiters leesbare, deernisvolle pakket.

Botha skryf oor die “magteloosheid teen klimaatsverandering en die omvang van die verarming en verval van die platteland. Verhale van skrik en oorlewing, hulp en ingryping en die onvervangbare rol van liefde en familie. En alomteenwoordig, verhale van hoop.”

’n Persentasie van verkope van die boek sal aan die Agri Droogtehulp-rampfonds geskenk word. Lesers kan ’n getekende kopie van Lafenis in die Droogte bestel by marzahn.botha@gmail.com vir R270, posgeld uitgesluit, of besoek Landbou-weekblad se winkel.

Elsabé Groenewald (links) van Komani-Karoo Express, Dr Gideon Groenewald (middel) van Gift of the Givers en Marzahn Botha (regs) tydens die boekbekendstelling in Kaapstad. Foto: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article