WAARSKUWING | Die video’s en foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
Groot ontsteltenis heers by inwoners van Cradock nadat die Inxuba Yethemba-munisipaliteit boomtakke afgekap het wat honderde klein wit reiertjies (ook bekend as bosluisvoëls) verjaag, doodgemaak of aan die noodlot oorgelaat het.
Dit is tans dié voëls se broeiseisoen en honderde klein voëltjies wat uit die neste geval het, is óf dood óf beseer.
Die nood van hierdie voëls is onder die aandag van Brendan en Danelle Murray van die Owl Rescue Centre by Hartebeespoortdam gebring en die egpaar het Saterdag, 15 Januarie met ‘n ligte vliegtuig op Orange Grove, die plaas van Toby en Tracey Michau net buite Cradock, aangekom.
Die ongeveer 50 kuikens wat deur Tracey en haar helpers gered kon word, is aan die Murrays oorhandig. Hulle was verplig om ‘n bakkie te huur vir die terugtog aangesien die vrag te groot sou wees vir die vliegtuig. Hulle was van voornemens om die voëls na SA Wildlife Rehabilitation in Gauteng te neem.
Tracey het die lof van die Murrays besing en gesê die werk wat hulle doen is “ongelooflik”.
“Ek sal nie jok as ek sê ek was verlig toe ek die voëls aan hulle oorhandig het nie – dis ‘n voltydse werk om na dit om te sien!
“Ek is net bly ons kon hulle red, want hulle het so verlore tussen die afgekapte bome gelyk,” het Tracey gesê.
Op navraag het die waarnemende munisipale bestuurder van Inxuba Yethemba-munisipaliteit, Mkhululi Mbebe, gesê dat hy heeltemal onbewus was van die voëls toe hy die afsny van die bome goedgekeur het.
“Ek belowe dat ek in die toekoms voor so iets weer aangepak word, met die regte mense sal konsulteer,” het Mbebe gesê.



