Tracey Michau, ’n boervrou van die Cradock-distrik, het dadelik begin plan maak toe sy tuinboulesse aan die inwoners van Twinsville in Hofmeyr gaan gee en agtergekom het dat daar bykans geen water beskikbaar is nie.
Talle stap soggens kilometers na waterpunte vir huishoudelike gebruik, waarna dit as gryswater die tuine aan die lewe moet help hou.
Tracey, van Self Sufficient Farming Cradock, is deur die opleidingsinstansie Hofmeyr Hugs of Hope genader om behulpsaam te wees met die opleiding van tuiniers in Twinsville.
“Daar is krane in elke huis, ook ’n toilet, maar daar was sedert hierdie huise gebou is, nog nooit enige water in enige van die krane of waterpype nie,” sê Tracey.
“Ek het agtergekom dat die oormag waarteen die voornemende tuiniers te staan kom, net te oorweldigend is.
“Sommige huishoudings moet tot 4km stap om ’n tenk op te spoor wat nog water in het. Ek het ook opgemerk dat vele huishoudings ook gebruik maak van karretjies waarmee hul kinders kan stuur om water te gaan haal.”
Sy het besluit om verligting te probeer bring en het toe op die Facebook-groep Self Sufficient Farming, gevra vir die borg van ’n watertenk vir die Twinsville-tuinier wat die meeste aanleg in en insig oor tuinbou het en baie aktief daarin is.
“Tania en haar eggenoot Neels Carelsen van Mayfair Milking Machines in Grahamstad het dadelik ’n 10 000 liter watertenk gratis aangebied,” sê Tracey.
Basie Stuurman is nie net tuinier in drie tuine nie, maar deel ook graag saadjies en saailinge uit. Hy gee ook tuinboulesse aan voornemende jong tuiniers.
Roelf Opperman het namens Hofmeyr Hugs of Hope die tenk by Basie Stuurman afgelewer waarna André Schoeman, Flip Marais, Chris Burger en Basie self die tenk geinstalleer het.
“Ek is so bly oor die water. Nou het ek nie meer nodig om met my ou bene so ver te gaan soek vir water nie,” het Basie se vrou, Katy Stuurman gesê.
Katy het op die stoep gesit en Amaranthis-blare fynkap om dit saam met pampoenblare vir aandete te kook. Sy en Basie sien ook om na hul sewe kleinkinders.
“Hier is nou genoeg water vir ons, ons diere, ons ganse en eende, en ook vir ons tuin!”




