Deon en Dionne Schoombee en Telicia en Hugo Wasserman van Schoombee Karoo Padstal op Middelburg. Dié padstal is ’n gewilde aftrekplek om kraakvars-plaasprodukte en heerlike tuisgebak te koop. Foto:VERSKAF


“Ons is passievol oor Middelburg en opgewonde oor die dorp se toekoms. Dit is hoekom ons besluit het om hier ‘n winkel oop te maak . . . want dit is ons huis!”

Só sê Telicia Wasserman, nadat sy en haar man Hugo saam met Dionne en Deon Schoombee, ’n plattelandse winkel in die middel van die pandemie oopgemaak het.

Dié dinamiese vier vennote agter die sukses van Schoombee Karoo Padstal op Middelburg, het nie tyd vir negatiewe denke nie.

Toe die winkelspasie langs die Sasol-garage in Meintjiesstraat einde 2020 oopgaan, het hulle besef dit is die ideale afsetgebied vir hul plaaspro-dukte en tuisgebak.

“Ek hét ’n paar slapelose nagte gehad oor die ekonomie en die feit dat Februarie seker die slegste maand is om ’n besigheid te begin,” sê Dionne, maar ’n jaar later kyk hulle met groot dankbaarheid terug.

“Ons is eintlik in verwondering oor die Here se seën.”

Die winkel se industriële plaashuisdekor laat besoekers dadelik tuis voel, en asof dít nie genoeg is nie, staan Margaret Esau gereed met perfekgebroude koppies kafeïen, natuurlik van varsgemaalde bone.

Hoewel Dionne en Telicia aanvanklik gedink het dat veral moeë langpad-reisigers by hulle sal aandoen vir koffie en eetgoed, is dit eintlik Middelburgers self wat dié winkel se getrouste ondersteuners is.

“Ons het ’n geregistreerde slagpale op ons plaas Vriesfontein, waar ons net ons eie lammers, bees en wild slag en verwerk,” sê Dionne.

“Ons lewer ons produkte in die Kaap af, maar wou dit graag ook aan Middelburgers bied.”

Telicia is ’n bobaasbakker as dit by beskuit en pekanneuttertjies kom.

“Ons wil nie kompetisie wees vir ander winkels op ons klein dorpie nie. Daarom soek ons wyd en syd vir produkte wat nie reeds op Middelburg se rakke beskikbaar is nie,” sê Telicia.

“Dis vir my, Hugo, en ek glo ook vir Dionne en Deon, ’n groot voorreg dat ons vriendskap en vennootskap so suksesvol is – die winkel gaan rêrig oor menseverhoudings.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article