Kiaan met die klein Kleinotter in sy roeiboot. Hulle het die Kleinotter-wesie by die Sondagsrivier gered.


SONDER dat drie mense in ’n bootjie op die Sondagsrivier dit besef het, het hulle ’n bloedjong outjie van ’n baie skaars spesie help red toe hulle die verwese diertjie, wat reeds op die roeispaan probeer klim het, na veiligheid help bring het.

Eers na die tyd het hulle gehoor dit is ’n Kleinotter (in Engels bekend as Spotted Neck Otter) wat as byna-bedreigd op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUBN) se rooilys van bedreigde spesies aangedui word.

“Ek, my vriendin Melanie en haar seun Ian het nog lekker geroei, toe kom die outjie aangeswem,” vertel Lauren Els Rudolph, een van die drie wat in die roeibootjie was.

“Ons kon sien hy is gedisoriënteerd, iets was nie lekker met hom nie. Toe hy op die roeispaan probeer klim, het Kiaan hom opgetel en beskermend vasgehou. Ook toe ons weer op land was en mense aan hom wou vat en hom wou voer het hy hom beskerm.”

Lauren en Melanie het rondgebel vir hulp, en toe dít nie slaag nie, met die diertjie deurgery na Daniell Cheetah Project buite Kirkwood. Hier het Maxi van Wyk, diereversorger en toergids, vir Arnold Slabbert van Wildline, ’n bewaringsorganisasie in die Baai, gebel.

Kleinotters is seldsaam en het selektiewe dieet

“In sulke gevalle is dit belangrik om altyd die regte mense te bel. Arnold het dadelik na my oproep uitgery,” sê Maxi, “Hy het vinnig vasgestel dit is ’n Kleinotter, en nie die Groot-otter (Cape Clawless Otter) nie wat meer algemeen voorkom.”

Arnold was ingenome oor dié seldsame vonds.

“Ek het 30 jaar gelede ’n Kleinotter gesien en dit was toe skelm jagters ’n volwasse een in die monding van die Visrivier doodgemaak het.”

Arnold glo die ma van die jong ottertjie wat uit die Sondagsrivier gered is, is dood.

“Die ma los nooit haar kleintjie alleen nie, behalwe wanneer sy kos gaan vang. Hierdie ottertjie het uit die nes geswem, op soek na kos omdat hy honger was en sy nie teruggekeer het nie.”

Die Kleinotter, veral ’n jong enetjie soos dié, het ’n baie selektiewe dieet, beklemtoon Arnold. “Jy kan hom nie enigiets voer en hoop hy maak dit nie.”

Volgens Wikipedia is die Kleinotter meer waterlewend as die Groototter en verlaat slegs die water om te rus of te ontlas. Hulle eet vis, waterslakke, paddas en voëls.

“Die Sondagsrivier-outjie was egter nog só klein, ons moes nog die regte melkformule vir hom uitwerk,” sê Arnold.

Met die hulp van kundiges by Bayworld en die Mount Croix Dierekliniek, is die regte formule saamgestel en kon hy begin herstel. Arnold reken sy rehabilitasie sal nog so ses maande duur.

Arnold het dit ook beklemtoon dat die Klein- en Groototter beskermde spesies is, dus mag dié diere nie sonder ’n permit aangehou word nie. Oortreders word swaar beboet – selfs met soveel as R100 000.

Lauren is bly dat die ottertjie aan die herstel is.

“Ons wil gaan kuier sodra hy sterk genoeg is. Dit is lekker om te weet ons het gehelp om ’n bedreigde diertjie te help red. Weet jy, ons het so min van die Kleinotter geweet, ons het gedink dit is ’n besering toe ons die geel onder sy nek sien.”

Die Kleinotter, (Lutra maculicollis) wat in grootte bykans ’n derde van dié van die Groot-otter is, se keel en bors het roomkleurige spikkels en het kloue aan sy pote met webbe tussen-in.

“Ek is ’n groot diereliefhebber, en my lewe lank het ek gewens dat my lewenspad op ’n spesiale manier met ’n wilde dier sal kruis en … hier het dit gebeur!”

Arnold het al die rolspelers in die redding van die baba Kleinotter bedank. Hy het verder ’n beroep op die publiek gedoen om op sekere belangrike punte ag te slaan wanneer hulle vermoed ’n jong dier is wees gelaat.

“Hou die diertjie eers vir ’n paar uur dop om seker te maak die ouers kom nie terug nie. Onthou, dit is onwettig om ’n wilde dier as ’n troeteldier aan te hou. Wanneer jy wel op ’n wilde dier afkom wat lyk asof hy hulp nodig het, kontak ’n kundige wat ondervinding in die sorg van die dier het.

“Tyd is belangrik. Ure kan die verskil tussen lewe en dood wees vir ’n jong dier,” sê Arnold.

  • Wildline se kontaknommer is 082 3323 660.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article