CRADOCK ACVV-tak het ’n gesellige Valentyns-opskop, waarvan al die kaartjies soos soetkoek verkoop het, by The Palms gehou en ’n stewige bedrag is ingesamel wat ’n goeie hupstoot vir dié vereniging is.
Volgens Carin Janse van Rensburg, die hoofmaatskaplikewerker vir Cradock-tak, sowel as streekbestuurder vir die ACVV in Oos-Kaap Middellande-streek, wat Middelburg, Dordrecht, Cradock en Somerset-Oos insluit, en die persoon wat verantwoordelik is vir die maatskaplikewerkers en ACVV tehuise in die streek, is die jaarlikse dans ’n reddingsboei vir Cradock ACVV.
“Partykeer moet ons maar ons rieme dun sny om uit te kom,” sê Janse van Rensburg.
Sy het verduidelik dat die tak self verant -woordelik is vir hul daaglikse kantooruitgawes en omdat hulle onder die departement sosiale ontwikkeling val, gebeur dit baie keer aan die einde van ’n finansiële jaar dat hulle van April tot Junie, en selfs ook al in Julie, die salarisse van die personeel self moet be-taal.
Die ACVV vra geen geld vir die dienste wat hulle in die gemeenskap lewer nie.
“Daar is ook baie addisionele koste soos brandstof, die koste van verslawingstoetse op ouers van jong kinders, die neem van sulke kinders onder die ouderdom van 12 jaar na tehuise in Graaff-Reinet of Gqeberha, onderhoud van die kantoorvoertuig wat reeds agtien jaar oud is, asook die verbandkoste wat aangegaan is om ’n broodnodige kinderhuis vir seuns en dogters van 12 tot 18 jaar in Cradock tot stand te bring,” sê Janse van Rensburg.
Huis Bethesda, die kinderhuis op Cradock, is tans in sy derde jaar en dit gaan volgens Janse van Rensburg, baie goed.
“Daar word voorsiening gemaak vir ses seuns en ses meisies waarvoor slegs ’n pleegsorgtoelae ontvang word.
“Die gemeenskap van Cradock en die plaaslike kerke en skole is Huis Bethesda baie goedgesind, soveel so dat ons al een derde van die verband op die huis kon afbetaal.”
“Ons Hoekhuis-oornaggeriewe is een van die suksesvolste projekte wat ons nog aangepak het en dit help geweldig met ons lopende koste,” sê Janse van Rensburg.
Volgens haar was dit ’n uitstekende inisia-tief van die ACVV om ongebruikte kamers in hul kantoorkompleks in oornaggeriewe om te skep.
Die Hoekhuis is baie gewild onder toeriste en reisigers en die inkomste help baie met uitgawes.
“COVID-19 het ons bietjie in die wiele gery toe ons nie gaste mag ontvang het nie, maar ons is nou weer goed op dreef.”
Die ACVV se jaarlikse veeveiling word ook goed deur die gemeenskap ondersteun.
“Die ACVV is in 1900 in Cradock gestig en ons is al 122 jaar lank oop met genade en ondersteuning van die publiek.
“Ons gaan nie moed opgee nie. Saam sal ons aanhou om ons gemeenskap te dien,” sê Janse van Rensburg.

