ASOF die COVID-19 pandemie van die afgelope twee jaar nie die onderrig van leerlinge ’n gevoelige knou toegedien het nie, moes skole in die Oos-Kaap verlede week weer ’n volle week se broodnodige onderrigtyd inboet.
Dìt nadat die Oos-Kaapse taxibedryf vir die soveelste keer sy spiere gebult het.
Die Oos-Kaapse departement van vervoer is ’n allemintige R100 miljoen aan Oos- Kaapse taxibase verskuldig vir skoolver-voerdienste wat sedert Oktober verlede jaar aan leerlinge gelewer is.
Gevolglik is taxis sedert verlede Maandag van roetes onttrek en is duisende Oos-Kaapse leerlinge daardeur gestrand gelaat.
Skoolhoofde was verlede week nog in die war oor die ware toedrag van sake.
Verskeie hoofde het aan die Komani Karoo Express gesê dat taxi-eienaars vroeg Maandag by hul skole opgedaag het en hulle oor die protesaksie ingelig het. Hoofde is versoek om kinders wat wel by die skool was huistoe te stuur.
Enkele plaaslike skole se bestuursrade het ouers reeds verlede Sondagaand kennis gegee om hul kinders liefs tuis te hou in- dien hulle enigsins vir hul veiligheid vrees.
Op Fort Beaufort was dit by bykans al die dorp se skole verlede week grafstil. Die staking het ook dié leerlinge geraak wat nie van skolevervoer gebruik maak nie. Skoolhoofde het ouers op sosiale media van verwikkelinge ingelig. “Dis sò hartseer dat wanneer olifante baklei, dit die gras is wat die seerste kry,” het ’n bekommerde ouer aan Komani Karoo Express gesê.
Die staking sou die afgelope Maandag momentum kry wanneer taxi-eienaars die Oos-Kaapse strate sou invaar uit protes teen die provinsiale departement van vervoer.
Twee vergaderings wat die afgelope na-week op die nippertjie tussen die Oos- Kaapse premier, Oscar Mabuyane en die SA Nasionale Taxi-vereniging (SANTACO) gehou is, het gemoedere kalmeer. Dìt nadat die premier die taxi-vereniging vir sewe dae grasie gevra het om die departement se skuld aan hulle te delg.
Hoewel verskeie ouers nog skepties was om hul kinders terug skool toe te stuur het die meeste skole sedert Maandag weer normaal gefunksioneer.


