Die ink op die stories oor die bewaring van Cradock se klein wit reiertjies was nog nie droog nie of die plaaslike munisipaliteit was oorval met briewe, telefoonoproepe en boodskappe van inwoners wat net nie meer kans sien om hierdie voëltjies in hul omgewing te verdra nie.
“Mense wat in die omgewing bly waar die voëls hul neste het, het ons vertel hoe die voëlmis hulle motors en huise bemors. Hoe ondraaglik die reuk is van klein voëltjies en vrot eiers wat uit die neste val, en hoe die sypaadjies en hulle huise bemors word,” sê burgemeester Noncebo Zonke.
Volgens Wilhelm Smit, voorsitter van die Cradock Sakekamer, is mense in die omgewing van die voëlneste baie ontsteld en bekommerd oor die pryse van eiendomme wat so drasties gaan daal as gevolg van probleme met die voëls.
“Daar is al mense wat asemhalingsprobleme het as gevolg van siektes wat die voëls dra. En daar is, benewens die skoonheidsalon, bababoutiek en spaza-winkel ook ’n kleuterskool in die omgewing. Dié arme kindertjies kan as gevolg van die gemors nooit buite gaan speel nie,” het hy gesê.
Mense wat net verby gery het, het gekla van blertse op hul motors en ’n voetganger op pad na ’n belangrike afspraak, het ’n ‘misbom’ op die kop gekry toe hy onder die bome deurgestap het.
Op ’n vergadering wat op 15 Februarie in die munisipale raadsaal plaasgevind het, het gemoedere nogal hoog geloop en is daar besluit dat die voëls en hul neste verskuif moet word na ’n meer geskikte area. Daar is ook besluit dat die dennebome in die omgewing, wat al oud is en baie beskadig word deur die voëls en munisipale werkers wanneer hulle onderhoud doen aan oorhoofse kragkabels, verwyder moet word om plek te maak vir nuwe inheemse bome.
Daar gaan glo probeer word om die voëls wat vir ’n nuwe broeiseisoen terugkom, weg te hou deur hulle en die bome in die omgewing papnat te spuit. Die brandweer sal hiervoor verantwoordelik wees.


