DIE Groot Visrivier-kanomarathon vind vanjaar op 7 en 8 Oktober plaas.

Dit sal die veertigste keer wees dat hierdie groot sportgeleentheid met nasionale sowel as internasionale deelnemers by Cradock plaasvind.

Die Suid Afrikaanse K-1 kampioenskappe sal by hierdie geleentheid beslis word en groot belangstelling word weer verwag. Strawwe kompetisie in alle afdelings sal verseker tussen al die voorste roeiers heers.

Die marathon wat by Grasrugdam begin, strek oor twee dae en is 81.8km ver tot by die sportkompleks in Cradock. Die eerste skof, waar elke roeier se vaardigheid tot die uiterste getoets word, neem roeiers oor 45.8km tot een kilometer verby Knutsfordbrug waar middagete bedien sal word.

Die tweede skof oor 30km vind Saterdag-oggend vanaf 07:00 plaas en sal roeiers na die eindpunt by die dorp neem. Die gewaarborgde watervloei in die rivier sal weereens 46 kumek wees.

Deelnemers moet reeds Donderdag, 6 Oktober, voor die marathon tussen die ure 14:00 en 19:00 by die sportgronde registreer.

As gevolg van die huidige COVID-19-reë-lings sal daar vanjaar weer nie ’n openbare prysuitdeling wees nie en wenners kan hul medaljes ná afloop van die marathon by die registrasiekantoor kom afhaal.

Verblyf vir roeiers en hul ondersteuners word by die Hoër Landbouskool Marlow, die Hoërskool Cradock en Cradock Laerskool aangebied.

Alle gastehuise en selfs privaat wonings wat vir die geleentheid uitgehuur word, sal na verwagting vol bespreek wees.

Die marathon-naweek is gewoonlik ’n hoogtepunt op die kalender en ’n baie welkom finansiële inspuiting vir die dorp met mense wat in groot getalle opdaag om te roei of om die roeiers te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article