BLOKKIESRAAISELS is ’n wêreldwye tydverdryf waaraan menige mense “verslaaf” is en die ontstaan hiervan is te danke aan die New York World koerant wat in 1913 die eerste blokraai gepubliseer het.
Party mense vul dit in om hul breinselle op-en-wakker te hou, ander om die swart kombers van vergeet weg te hou, of om te ontsnap van ’n dag vol kommer en sorge waaraan ’n mense die meeste van die tyd niks kan doen nie.
As ’n mens eers met blokkiesraai-sels begin, kan jy nie ophou nie.
Deesdae lyk dit of blokraaiselma-kers se gewone woorde opgeraak het, want party van die woorde is amper-amper nie in die woordeboek nie.
Gepraat van woordeboeke! Stapels en stapels van die boeke word gekoop en glo dit of nie, nes ’n tiener se klerekas, gaan die inhoud van dié boeke ook uit die mode sodat nuwes gekoop moet word.
Die oorsprong van hierdie wêreldwye tydverdryf is te danke aan die joernalis Arthur Wynne, wat gevra is om ’n oop ruimte in die koerant, New York World, te vul. Dit het só gewild geword dat daar teen 1923 blokraaie in al Amerika se vooraanstaande koerante was.
Wie se naam verskyn die meeste?
Hierdie nuwe gier het in 1922 oorgewaai Engeland toe en alhoewel alle dagblaaie dit baie gou opgeneem het, was die Sunday Times of London se blokraaie die bekendste. Engeland ontwikkel gou sy eie styl en laat die wêreld weet dat hul blokraaie baie moeiliker is as dié van Amerika.
Blokraaisels in verskillende vorme en tale is vandag in alle lande beskikbaar. Terwyl die meeste blokraaie oor musiek, literatuur, sport, Aardrykskunde, tale en mense gaan, is Konigin Elizabeth II die naam wat wêreldwyd die meeste in blokraaie voorkom.
Blokraaie was ook onder die grootste tydverdrywe van 17 Amerikaanse presidente, natuurlik saam met die ander gewildste tydver-drywe, sigare en glo dit of nie, om te verf! Daar word ook berig dat president Barack Obama in ’n stadium ’n twee-jaar-voorraad van blokraaie bestel het en daar word vertel dat hy 30 blokraaie per dag gedoen het.
Die Guiness Book of Records het op 15 Mei 2007 verklaar dat Roger Squires van Shropshire in Engeland die vrugbaarste brein het om blokraaie op te stel. Sy 66 666ste blokraai is op 17 Mei 2007 gepubliseer. Hulle het altesaam twee miljoen leidrade bevat.
Die langste woord wat nog ooit in ’n blokraai gebruik is, was die naam van ’n Walliese dorp Llanfairpwllgogerychwyrndrobwllllantysiliogogogoch met oor die vyftig letters. Suid-Afrikaners wie se tonge knoop om nuwe plekname soos Gqeberha uit te spreek, moet hul “vernuf” op die uitspreek van dié Walliese dorp toets.




