’n UITSTALLING van verskeie bekende motorvervaardigers se nuutste modelle word op Saterdag, 2 April op Cradock gehou as deel van ’n fondsinsameling vir die dorp se diereskuiling.
Dié dag van motors, stalletjies met kosse, handwerk en ook vermaak vir die kleinspan is die idee van Creative Concepts en word by The Palms op die dorp aangebied. Van die motorhandelaars wat op dié dag met spoggerige motors daar te sien sal wees sluit in CAT Delta, Kelston Ford en Kelston Toyota.
Volgens Christo Coetzee, eienaar van Creative Concepts, sal daar ook verskeie vertonings wees met onder andere Chris Brits wat musiek gaan maak, so-wel as ’n verskeidenheid eetgoed, geskenke en natuurlik sal daar ook gesorg word vir vermaak vir die kleinspan.
Al die geld wat op die dag ingesamel word, gaan aan Cradock se Diereskuiling gegee word. Die diereskuiling sien om na talle verwaarloosde diere en is in groot geldnood weens die toename in diere wat deur mense aan hulle eie lot oorgelaat word.
Cradock se Diereskuiling is afhanklik van die publiek se goedhartigheid en ondersteuning met skenkings van nie-bederfbare kosse, komberse sowel as gelde-like bydraes.
Toegang tot Creative Concept se pretdag en motoruitstalling is R5 per persoon en R50 per motor of motorfiets.
Creative Concepts is ’n nuwe besigheid op die dorp wat 3-D drukwerk doen op enige opper-vlak. Hul doen ook laser-graveerwerk.

