Die VLV Hofmeyr-tak is tydens die Sirkel Cradock se Sirkelkonferensie aangewys as die Tak van die Jaar. Hier is lede (van links) Susan Vermaak, Isabel du Plessis (sekretaresse), Dadda de Jager (leefstylsameroepster), Alicia Jansen (tesourier), Elisma de Jager (kunssameroepster), Nadia Bosch (vise-voorsitter, asook landbou-, tuinbou-, en gesondheidsameroepster). Teresa Opperman (Sirkelsameroepster: openbare sake) en Estelle Kruger (sameroepster openbare sake: Hofmeyr-tak). Foto:VERSKAF

Credit: SYSTEM

Die Vrouelandbouvereniging van Hofmeyr was die gasvroue van die Sirkelkonferensie wat verlede week in swier by die Victoria Boetiek Hotel aangebied is.

Sowat dertig verteenwoordigers van die VLV-takke Hofmeyr, Somerset-Oos, Kookhuis en Tarkastad het die konferensie bygewoon en ook aan die kompetisies deelgeneem. Puik inskrywings is van al vier takke ontvang en die beoordeling is deur drie bekwame vroue gedoen.

Hofmeyr VLV word benoem as die Tak van die Jaar en ontvang ook tien trofeë. Dié tak het ook die hoogste punte behaal vir ’n Landbou-inskrywing deur Nadia Bosch.

Pieter Nortje van die Sitrusrand-boerdery op Kirkwood was die gasspreker en het met die vroue gesels oor “Volhoubaarheid”, wat vanjaar die VLV-tema is.

Bewaring van grond en plantegroei, wyse benutting van water, volhoubare bestuur van finansies, oordeelkundige gebruik van aanvullings en gifstowwe was van die sake waaroor Nortje gepraat het.

Vanuit die Hofmeyr-tak het Rosemary Jordaan gepraat oor hoe om “Volhoubaar te Leef”.

“Benut elke dag ten volle. Skep ’n omgewing waarin jy jouself kan uitleef en geluk vind. Wanneer jy in jouself vreugde ervaar sal jy ook vreugde aan ander kan oordra,” sê Jordaan.

Senior Hofmeyr VLV-lede Susan Vermaak en Emmarentia Roux het die vlae tydens die openingsplegtigheid ingedra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article