Die Laerskool Cradock het ’n wynproe-geselligheid aangebied om geld in te samel met die doel om die skool se koshuis op te knap.
Alhoewel die finale bedrag nog nie bereken is nie, blyk dit dat nagenoeg R100 000 ingesamel is.
Volgens Elize van Aardt, een van die organiseerders, het sy en die res van die span van Lizelle Marais en Stefanie Nortjé met die hulp van mammas en selfs ouma’s vir 180 gaste reggestaan en as gasvroue by tafels opgetree. Die saal was pragtig versier en heerlike eetgoed is voorsien.
D’Aria Landgoed van Durbanville, waar Rudi van Waltsleben die wynmaker is, het gratis twee bottels wit- en twee bottle rooiwyn verskaf vir die wynproe wat deur Johan van Waltsleben van dieselfde firma aaangebied is. Hulle het die ander drank wat opgeveil is, onder kosprys vir die skool geskenk.
Voor die wynveiling is verskeie ander skenkings opgeveil wat gewissel het tussen tennislesse, ’n kuiernaweek vir twee, vlakvark jag, keramiekklasse en ’n gesinsfotosessie. Phillie Schoombee, die afslaer, was op sy stukke en het elke laaste sent uit die gaste se beursies gedwing om die skool se projek te ondersteun.
Die fondse sal aangewend word om Huis Vertue, die skool se koshuis, op die knap en van die badkamers oor te doen.



