Die ATKV-jeugtak Marlow het met die Baroda Boek- en Leesprojek begin om boeke vir die Baroda-plaasskool se leerders in te samel. Foto ter illustrasie.

Foto: Verskaf

Die ATKV-jeugtak Marlow gaan in die volgende skoolkwartaal ’n projek op Cradock van stapel stuur om vir plaaskinders van die omgewing leesstof in te samel.

“Ons wil met die Baroda Boek- en Leesprojek vir dié kinders die wêreld van lees en stories wys,” sê Nicoli Britz, takvoog van die jeugtak Marlow.

Die leesprojek gaan na die leerders van die Baroda-plaasskool uitreik. Dié skool fokus veral op plaaskinders wie se ouers op die plase in die omgewing werk.

“Armoede is groot en baie van hulle kan nie boeke bekostig nie. Daar is ook nie ’n biblioteek by die plaasskool nie.”

Die tak het besluit om tydskrifte en boeke in te samel om aan die skool te skenk.

“Die onderwysers het boekrakke in hul klaskamers en ons wil graag die rakke aanvul, want die boekies wat hulle wel het, is al voos gelees.”

Volgens Nicoli beplan hulle ook om ’n toneelstuk by die skool vir die leerders op te voer.

“Die kunste kom nie regtig by hulle uit nie en almal moet die geleentheid kry om stories en die kunste te ervaar.”

  • Kontak Nicoli Britz by 071 552 5649 of die streeksbestuurder, Gertjan Holtzhausen, by GertjanH@atkv.org.za as jy enige boeke het wat jy aan die Baroda Boek- en Leesprojek wil skenk.

UITGEREIK: WWW.ATKV.ORG.ZA

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article