Marlow Landbouskool het met drie spanne aan Graeme College se rugbydag deelgeneem. Marlow se 1ste, o.16A en o.14A-spanne speel met oorgawe en wen onderskeidelik hul kragmetings teen Dale College.
Die Wolramme se o.14A-span het van die afskop af hul wedstryd met mening ingeklim en spogrugby gespeel. Die samespel tussen voor-en agterspelers was uitstekend en Marlow wen die kragmeting 38-5.
Marlow se vurige o.16A-span het teen ’n groot en fisieke span van Dale gespeel. Die Wolramme se hoë tempo-spel was net te veel vir Dale en Marlow klop hul gemaklik met 25–0.
Marlow se 1ste span speel in hul wedstryd met hul oudergewoonte fisieke en kragspel goeie rugby. Marlow begaan egter twee onnodige hanteerfoute en Dale slaag met twee drieë.
Marlow se haker, Coeta Coetzee, druk die Wolramme se eerste drie en buitesenter Aiden de Villiers slaag met die doelskop. Aiden het ook met ’n strafskop geslaag.
In die tweede helfte speel Marlow kookwater hardlooprugby en gaan druk drie drieë. Burrie van Heerden (8), Ulrich Schoulze (4) en Josiah Weideman (13) kuier agter die doellyn. Aiden slaag met al die doelskoppe. Marlow se vaste vyf voorspelers moet erkenning kry vir die wyse waarop hulle as ’n eenheid goed saamgespeel het. Marlow wen 31–12.




