Die Cradock Kosfees word van 27 tot 29 Mei op die dorp en by Jenkins Creek gehou.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Cradock se Karoo Kosfees gaan vanjaar méér tafels dek vir ’n grooter verskeidenheid uitstallers en meer interessante aktiwiteite.

Dié Kosfees begin Vrydag, 27 Mei in Markstraat op die dorp, maar word Saterdag, 28 Mei en Sondag, 29 Mei by die gewilde Jenkins Creek sowat 12km buite Cradock gehou.

Benewens die groot verskeidenheid stalletjies vir eet- en drinkgoed, wyn en dekor, gaan daar ook meubels en skoonheidsprodukte wees sowel as ’n interessante lesing vir boere.

Vrydag se Kosfees-program begin op ’n jollige noot om 17:00 met vertonings deur gimnaste en zumba-dansers. Daarna is dit tyd vir die straatmark en stalletjies in Markstraat.

Saterdag om 10:30 begin die Kosfees by Jenkins Creek met kinderkuns.

Daarna word ’n bierproe gehou en kan daar deur sowat 74 stalletjies gedrentel word waar van melktert-shooters, koeksisters, ’n tee en koffie lounge, draadkuns, skilderye, meubels, tot Karoo-oesters en vele ander produkte aangebied word.

Karoo-koolstofverbouing

Saterdagmiddag om 13:00 gaan Paul Collett, ’n boer van Visrivier, ’n lesing aanbied oor Karoo-koolstofverbouing (Karoo Carbon Culture).

Collett het die koolstof in sy grond vermeerder en kan dus nou meer water spaar, benodig byna geen kunsmis nie, sy plantdiversiteit vermeerder en daar is ’n mikroklimaat gevestig.

“Ons nooi boere om na Collettt se reis na sukses om chemiese byvoegings te verminder, te luister,” het een van die organiseerders van die fees gesê.

Sondag word besighede, gesinne of groepe vriende uitgenooi om aan die potjiekoskompetisie op Jenkins Creek deel te neem.

Die wenners gaan ’n eersteprys van R2 500 wen en deelnemers kan ook nog hul potjies se inhoud aan feesgangers verkoop. Daar gaan ook pryse vir die aantreklikste kospotstasie en vele ander pryse wees.

Pretdraf, 21km en Karoo Uber

Vir Kosfeesgangers wat daarvan hou om aktief te wees, word ’n Kosfees-halfmarathon (21km) aangebied. Dit word deur Karoo Makelaars en Old Mutual geborg. Daar sal ook ’n pretdraf oor ’n veel korter afstand aangebied word. Inskrywings kan gedoen word deur 082 320 2864 voor 18 Mei te bel.

Kosfeesgangers kan gebruik maak van die Karoo Uber wat tussen Cradock en Jenkins Creek gaan ry. Vooraf-besprekings vir dié diens is noodsaaklik. Bel Charl Lyell by 082 578 9418 vir die Karoo Uber.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article