CRADOCK-Oos se NG-gemeente wat vir maande reeds sonder ’n herder is, gaan op 1 Junie vanjaar hul nuwe herderspaar verwelkom.
Ds. JR Nieuwenhuizen, tans predikant op King William’s Town, kom in die plek van ds. Anatha Nel wat Cradock aan die einde van Januarie vanjaar verlaat het. Hy is ’n boorling van Graaff Reinet, het aan die Hoër Volkskool gematrikuleer en sy teologie-studies aan Universiteit Stellenbosch voltooi.
Ds. Nieuwenhuizen en sy vrou Liesel, het saam as jong teologie-studente begin.
“Ek het vir ’n ‘vol’ predikant en Liesel het vir jeugwerk studeer. Haar eerste gemeente waar sy in 2014 diens gedoen het was in Saldanha. Ek het in 2015 vir ’n paar maande as proponent by Jansenville uitgehelp en is daarna na King William’s Town beroep,” sê ds. Nieuwenhuizen.
Liesel het intussen haar studies in onderwys voortgesit en help sedert 2017 by skole uit.
Die egpaar het twee seuntjies, Rigardt-John wat eersdaags sy derde verjaardag gaan vier en Jan-Adriaan wat nou ses maande oud is.
Volgens ds. Nieuwenhuizen bid hy en Liesel, “dat ons saam met NG Cradock-Oos gemeente op ’n geloofsreis sal kan gaan waar ons God se wil vir ons lewens opnuut sal ontdek, saam sal groei as medegelowiges en saam in God se koninkryk werksaam sal wees.”




