Meneer Eldin Erasmus, geliefde onderwyser aan die Newton Primêre Skool op Fort Beaufort, het ná 35 jaar in die onderwys sy rooi pen finaal gebêre.
Ironies het hy sy onderwysloopbaan geëindig by dieselfde skool waar hy jare gelede sy laerskoolloopbaan begin het. Erasmus is op 13 September 1964 op die klein dorpie Berlin gebore en het sy laerskoolloopbaan in 1970 by Newton (U.C.C.) Primêre Skool begin. Hier het hy tot standerd 6 (graad 8) skoolgegaan en in 1982 by die John Bisseker Hoërskool in Oos-Londen gematrikuleer.
In die jare 1985 tot 1987 het hy aan die Onderwyskollege Dower in Gqeberha gestudeer en hom in Januarie 1988 by die personeel van Newton Primêr op Fort Beaufort aangesluit.
Onder sy kollegas en leerlinge was hy alombekend as “Uncle Buck”. Hy was ’n kranige sportafrigter en het die bevorderingsleer stelselmatig by Newton Primêr geklim. In 1996 is hy as departementshoof by die skool aangestel en in 2019 as onderhoof.
Erasmus het aan Komani-Karoo Express gesê dat hy sy beroep gaan mis, “Maar nou gaan ek die geleentheid hê om my op my tweede liefde, kerkwerk, toe te spits.”
Sy kollegas het tydens ’n spoggeleentheid by die Fort Beaufort Buiteklub van hom afskeid geneem.



