Twee mense is die naweek met perlemoen ter waarde van R190 000 inhul besit naby Maletswai (voorheen Aliwal-Noord) in hegtenis geneem.
Volgens kaptein Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder, het die polisie op Saterdag, 15 Oktober omstreeks 23:00 inligting ontvang oor verdagtes wat met ‘n Isuzu-bakkie vol perlemoen van Komani na Maletswai onderweg was.
“Die voertuig is sowat 4km buite die dorp voorgekeer. Twee verdagtes, tussen die ouderdomme van 27 en 41, is in hegtenis geneem toe hulle die toneel wou vlug,” het sy gesê.
Die voertuig is ondersoek en tien sakke perlemoen (755 eenhede), met ‘n waarde van R190 000, is op beslag gelê, asook die verdagtes se selfone en die bakkie.
“Die verdagtes sal Maandag, 17 Oktober in die landdroshof verskyn op aanklagtes van die besit van perlemoen.”
Die waanemende Distrikskommissaris, brigadier Asogran Naido het die betrokke polisielede geloof vir hul vinnige reaksie en spanwerk wat gelei het tot die in hegtenisneming van die verdagtes.
“Hou aan met die uitstekende werk!” het hy gesê.


