Die Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit (DBNLM) is tans besig met ’n munisipale tussenverkiesing wat vandag, 17 Maart, vir spesiale stemme en more vir gewone stemme geskeduleer is.

Hiedie tussenverkiesing volg nadat ANC Raadslid Nathan Jacobs amptelik in Januarie 2026 bedank het, en die posisie van Wyksraadslid vir Wyk 7 gevolglik vakant geraak het.
Wanneer ’n raadslid uit ’n munisipale raad bedank, word die vakature hanteer ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture en die Kieswet.
Indien die vakature ’n wyksraadslid betref, soos in Jacobs se geval, moet ’n tussenverkiesing binne 90 dae na die ontstaan van die vakature gehou word sodat kiesers ’n nuwe verteenwoordiger kan aanwys.
Indien dit ’n proporsionele verteenwoordiging (PR) raadslid is, vul die betrokke politieke party die vakature volgens sy goedgekeurde partylys.

Totdat die vakature gevul is, funksioneer die raad met een lid minder, en alle besluite bly geldig mits ’n kworum teenwoordig is.
Vir ’n munisipale wyksverkiesing mag slegs kiesers wat in die betrokke wyk geregistreer is, stem.
Kiesers wat in ander wyke of munisipaliteite geregistreer is, kom nie in aanmerking nie.
Enige politieke party wat by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer is, mag ’n munisipale wyksverkiesing betwis.
Daarbenewens kan onafhanklike kandidate wat aan die OVK se vereistes voldoen (byvoorbeeld om Suid-Afrikaanse burgers, 18 jaar of ouer, en inwoners van die betrokke munisipaliteit te wees) ook hulself beskikbaar stel.

In so ’n geval hou die OVK toesig oor die nominasieproses, verseker dat alle kandidate aan die wetlike kriteria voldoen, en lys hulle amptelik op die stembrief vir die tussenverkiesing.
Hierdie spesifike tussenverkiesing in die Dr Beyers Naude Plaaslike Munisipaliteit word deur vier politieke partye – ANC, DA, VF+, en PA – betwis. Die kandidate van die betrokke partye is:
ANC – Andre Pokpas
DA – Martin Block
VF+ – Adriaan van Heerden
PA – Nathan Jacobs
Na sy bedanking het Jacobs verklaar dat sy besluit om die ANC te verlaat en amptelik by die PA aan te sluit gemotiveer is deur verskeie kwessies binne die munisipaliteit wat die ANC, volgens hom, herhaaldelik versuim het om aan te spreek.
Hierdie kwessies sluit onder meer die beweerde onreëlmatighede in die aanstellingsproses van sekere werknemers, die toekenning van tenders, en die uitkontraktering van munisipale dienste in.
Die DBNLM-raad bestaan uit 24 raadslede. Voor Jacobs se bedanking het die ANC (11 raadslede), met die steun van die CSA (1) en EFF (1), oor die algemeen die besluitnemingsmag in die raad beheer, teenoor die DA (10) en VF+ (1).
Met Jacobs se bedanking kan daar heel moontlik ’n verskuiwing in die magsdinamiek binne die munisipaliteit plaasvind indien ’n ander party beheer oor Wyk 7 verkry.




You must be logged in to post a comment.