JEFFREYSBAAI – Ellen Hancke, mede-verslaggewer en vriendin van Veronica Fourie vir meer as drie dekades het hierdie brief vir Veronica geskry met haar afsterwe. Veronica, ‘n oud-SABC verslaggewer en Kouga Express korrespondent, is vanoggend, Maandag, 22 Desember, skielik oorlede na ‘n kort stryd met kanker. Hier is Ellen se brief:
“Die halwe glas was altyd tot oorlopens toe vol.
Die rooi lipstick ‘n kneller vir alles wat negatief was.
Ons het saam gekunstefees vir oor die 30 jaar heen – Grahamstad en KKNK.
Vet pret gemaak … ek kyk nog steeds na foto’s.
Onthou jy toe ons die groot huis met die swembad gehuur het op Oudtshoorn?
Weggekruip het vir ons kids in die koshuis op Grahamstad ?
Die pret met die uitgelese koor van Pretoria?
Cecile se saamsleep gang-af op Grahamstad … die pret in die ‘Rot en Pa-rot’?
Jou dansery met die peg aan jou neus … die uitlander met die wilde bos hare het ewe vrolik meegedoen.
En hoe ek altyd moes hol vir die toilet – en dit soms nie gemaak het nie – in ‘n histeriese lagtoeval.
Ons plaaskuiers en stories deel.
Die slag toe jy na die ongeluk vir ds. Jasper laat flouval het, en ek die storie moes doen!
Die plaaskuiers op Vergenoeg. Naweke van dolle pret, min slaap, diepmaaglagge en sommer net opvangstories se deel.
Ons het ook soms saam gehuil, simpel gewees, gekinderklagtes , ge-mannekomdraai, soms bietjie baklei ook.
Kinders sien trou en skei.
Ons na-huwelik se boyfriendstories … liefdes-eskapades en verjaardagfeeste.
Die laaste tyd was so moeilik … maar jy het nog steeds ‘genogtans-sal-ek jubel’.
Jou laaste ‘ek voel bietjie goor’ het my effe beangs gelaat. Min sou ek weet …
Mater .. Mater … hou ons lotjie se plekkies warm.
Ons is verslae … dit was net te gou …




