WILLOWMORE – Die stand van gesondheidsorg in die Dr Beyers Naudé-munisipale area het onlangs weer onder die vergrootglas gekom toe die DA se kiesafdelingsleier, Samantha Graham-Maré, ’n oorsigbesoek by die Willowmore-hospitaal afgelê het.

Hierdie besoek het gevolg nadat DA-raadslede Japie Booysen en Ewald Loock, asook die hospitaal se waarnemende uitvoerende hoof, Dr Tamsanqa Julius Hewu, sekere uitdagings wat daar ondervind word, uitgelig het.
In ’n brief aan die distrikskantoor van die Departement van Gesondheid het Hewu talle van hierdie uitdagings, veral wat personeeltekorte aanbetref, uiteengesit.
Volgens hom is die gebrek aan permanent aangestelde dokters, insluitend ’n kliniese medewerker, die grootste bekommernis.
Hy is van mening dat dit pasiëntsorg nadelig beïnvloed en die departement ook aan regsaksies kan blootstel, aangesien dit daartoe lei dat daar geen dokters in die aande aan diens is nie en verpleegpersoneel dus alleen diens moet doen.
Nog ’n personeelverwante uitdaging wat Hewu uitgelig het, is die tekort aan permanente verpleegpersoneel.
Volgens hom waardeer Willowmore die distrikskantoor se ingryping deur agentskapsverpleegkundiges tydelik in diens te neem, maar daar is groot kommer oor wat gaan gebeur wanneer hierdie kontrak tot ’n einde kom.
Daarom het hy die distrikskantoor versoek om die aanstelling van permanente verpleegpersoneel te bespoedig.
Die belangrikheid van die toelatingskantoor, waar pasiëntlêers geopen en bewaar word en waar inkomste ingevorder word, is ook deur Hewu beklemtoon.
Volgens hom is hierdie kantoor die gesig van die hospitaal en verantwoordelik om te verseker dat interaksie met die publiek met empatie en vertroulikheid geskied.
Ten spyte hiervan was daar sedert 2019 geen permanente personeellid in die toelatingskantoor aangestel nie.
Hewu het verder bygevoeg dat meer bystand van die distrikskantoor benodig word, veral met betrekking tot arbeidsaangeleenthede en die welsyn van werkers wat reeds ’n geruime tyd gelede na hulle verwys is.
Benewens die personeelverwante kwessies het Hewu ook gepleit vir behuising vir gesondheidswerkers, aangesien dit volgens hom nie net in hierdie werkers se behuisingsbehoeftes sal voorsien nie, maar ook die hospitaal se inkomste sal verhoog.
Na haar oorsigbesoek het Graham-Maré bevestig dat die Willowmore-hospitaal onder uiterste druk funksioneer.
“Daar is ’n ernstige tekort aan verpleegkundiges – slegs drie dokters en drie geregistreerde verpleegkundiges is aangestel. Hulle het twee tandartsstoele, maar geen tandarts nie. Daar is ook geen pasiëntadministrateur of voertuigbestuurder nie.”
Graham-Maré het egter opgemerk dat die bestaande personeel hul uiterste bes doen om die hospitaal aan die gang te hou, ongeag al die uitdagings.
“Ons eerste indruk was hoe skoon die hospitaal is, ondanks die feit dat daar geen skoonmaak- of huishoudingspersoneel is nie. Boonop is al die beddens netjies opgemaak, ten spyte daarvan dat die wasgoedroller reeds drie jaar lank buite werking is.”
Graham-Maré het beklemtoon dat die Willowmore-hospitaal nie net vir Willowmore self verantwoordelik is nie, maar ook vir Rietbron, Steytlerville, Baviaanskloof en omliggende landelike gemeenskappe.
Tog word die hospitaal, in plaas daarvan om versterk te word om hierdie noodsaaklike mandaat te vervul, toegelaat om agteruit te gaan.
“Dit is onvergeeflik en moet so gou moontlik aangespreek word,” het sy gesê. “Ons gaan hierdie saak dringend opneem met die Provinsiale en Nasionale Gesondheidsdepartemente, asook die Sarah Baartman-distrikskantoor.”
Navrae rakende hierdie aangeleentheid is vroeg verlede week aan die mediaskakelbeampte vir die LUR van Gesondheid in die Oos-Kaap, Camagwini Mavovana, sowel as aan die Oos-Kaapse direkteur van kommunikasie, Siyanda Manana, voorgelê en sal gepubliseer word sodra daarop gereageer word.


You must be logged in to post a comment.