Kroonvale en Graaff-Reinet Primêre Skole in opwindende interskole-aksie

'n Sokkerbal op 'n sportveld.
Foto vir illustrasiedoeleindes. Credit: Pixabay

’n Opwindende atmosfeer van mededinging en sportmangees heers tans in Graaff-Reinet waar Kroonvale en Graaff-Reinet Primêre Skole tans op die sportvelde kragte meet tydens hul jaarlikse interskole.

Die interskole, wat ’n gewilde jaarlikse instelling in die dorp geword het, word vanjaar deur Kroonvale Primêre Skool aangebied.

Die sportkodes waarin deelgeneem word sluit rugby, netbal, sokker, hokkie, skaak, tafeltennis en landloop in – ’n vol program wat beloof om vele talente ten toon te stel.

Meneer Brendon Daniels, skoolhoof van Kroonvale Primêre Skool, vertel dat dit die negende interskole tussen die twee skole is.

“Sedert 2016 speel ons goeie, gesonde en mededingende interskole teen mekaar,” sê hy.

“Kroonvale Primêr het tot dusver vyf van die kragmetings gewen, en Graaff-Reinet Primêr drie. Wie ook al vanjaar met die louere gaan wegstap, verdien dit beslis.”

Daniels wens albei skole alle sterkte toe en beklemtoon dat dit uiteindelik die sport is wat moet seëvier.

“Mag die beste spanne wen!”

Graaff-Reinet Primêre Skool se skoolhoof, meneer Basil Vaaltyn, spreek sy waardering vir die jarelange positiewe verhouding tussen die twee skole uit.

“Ons waardeer die sportmangees en die kameraderie wat oor die jare tussen ons skole opgebou is en sien uit daarna om weer teen ons eweknieë mee te ding,” sê hy.

“Ons dra ons beste wense aan Kroonvale se atlete, afrigters, personeel en ouers oor en glo dat vanjaar se interskole genotvol en gedenkwaardig vir almal sal wees.”

Beide skole is van mening dat die interskole nie net ’n sportgebeurtenis is nie, maar ook ’n viering van samehorigheid, gemeenskapsbetrokkenheid en die ontwikkeling van jong talent.

Die publiek word uitgenooi om die spanne by die verskillende wedstryde te ondersteun en deel te wees van hierdie spesiale tradisie.

Die landloop en hokkie wedstryde het reeds op Vrydag, 1 Augustus en Dinsdag, 5 Augustus onderskeidelik plaasgevind en gister is die vaardighede die twee skole se tafeltennis – en skaakspelers getoets.  

Die program vir die oorblywende interskole wedstryde – netball, sokker, en rugby – wat vandag en more gespeel gaan word is as volg:

Vrydag, 8 Augustus:

Netbal:

09:00 – o/7

09:20 – o/8

09:40 – o/9

10:00 – o/10

10:30 – o/11

11:00 – o/12

11:40 – o/13

Al die bogenoemde wedstryde word op die A-baan gespeel.

Sokker:

14:00 – o/13 by die Botaniese sportveld.

Saterdag, 9 Augustus:

Rugby:

09:00 – o/7 (Pienkvoete)

09:30 – o/8 (Bondel)

10:00 – o/9

10:40 – o/11

11:30 – o/13B

12:25 – Opening van o/13A wedstryd

Al die bogenoemde wedstryde word by die Botaniese sportveld gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article