DIE rioollekkasie vanuit 7de Laan in Graaff-Reinet wat enkele weke gelede eindelik herstel is, gee steeds probleme.
Dié keer was ’n elektriese fout die oorsaak daarvan dat ’n yslike dam riool aan die Nqwebadam se kant van die snelweg uitgelek het.
Hoewel die fout intussen herstel is, is inwoners ontevrede oor die tyd wat verloop tussen rapportering van sulke lekkasies en optrede deur die munisipaliteit.
“Ek het die lekkasie op Woensdag 13 Maart gerapporteer,” het Michelle Erasmus, voorsitter van die Graaff-Reinet Inwoners en Belastingbetalersvereniging (GRRPA) gesê.
“Eers vandeesweek Dinsdag, ses dae later, het die munisipaliteit laat weet dat die probleem opgelos is. Intussen het daar nou ’n paar damme rou riool ontstaan, en geen moeite word gedoen om die gebied te rehabiliteer nie,” het Erasmus gesê.
’n Lugfoto wat vandeesweek deur ’n plaaslike vlieënier geneem is, toon hoe beeste water uit die rioolpoel suip.
Reeds met ’n vorige reënbui het perso-neel van die Camdeboo Nasionale Park bevestig dat rou riool afkomstig van die 7de Laan-lekkasie tot in die Nqwebadam ge-vloei het.
Erasmus is van mening dat die poele rou riool wat tans daar staan, ongetwyfeld dieselfde paadjie sal volg as dit weer reën.
“Wat dan?” vra sy. “Dis goed en wel dat ons tans boorgatwater drink, maar die idee is eintlik dat ons drinkwater uit die dam verkry, wat ons sal kan doen as die damvlak genoegsaam herstel het. As die dam egter met E.Coli en ander gevaarlike bakterieë besoedel raak, sal dit groot ge-sondheidsgevare inhou vir ons gemeenskap.”
Erasmus beklemtoon dat ’n goeie samewerkingsooreenkoms tussen die GRRPA en Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit baie belangrik is.
“Sowel ons as die munisipaliteit dra die gemeenskap se belange op die hart, en ons kan mekaar se hande sterk maak. Op die oomblik lyk dit egter nie of die munisipaliteit erns maak met gesondheidsrisiko’s soos rioollekkasies nie.
“Ook die rioollekkasie by Tronkdrif sleep maar net voort, en geen daadwerlike oplossing word gevind om verligting te bring vir die inwoners wat al maande lank met die stank moet saamleef nie.”
Volgens BNLM woordvoerder Wilca Smith is daar wel aandag geskenk aan die elektriese fout op dieselfde dag waarop die probleem gerapporteer is.
Sy sê die staande waterpoele kan moontlik ook aan reënneerslae toegeskryf word.
“Ons is in die proses om daardie area te rehabiliteer met betrekking tot omgewings-impak,” het Smith gesê.



