DIE langverwagte naweek van Cradock 4×4 se opedag aan die begin van Mei was ’n groot sukses. Gaste het van heinde en ver – selfs van Kaapstad – gekom om die geleentheid te ondersteun.
Vrydag was die kampterrein bedrywig soos daar nes geskop is, terwyl ou vriende wat mekaar lanklaas gesien het, weer saam kon kuier en nuwe vriendskappe gesmee word. Gou-gou het die vure gebrand en is daar heerlike skaap- en hoenderpotte voorgesit.
Saterdagoggend het ’n koel windjie gewaai, maar nadat ds. Anatha Nel die dag geopen het en daar reëls neergelê en roetes bespreek is, het niemand aan iets anders as die gebrul van die 4×4’s gedink nie.
Om beter beheer uit te oefen, is deelnemers in groepe verdeel met groepleiers en agterryers wat veiligheid te alle koste gehandhaaf het.
Daar was drie roetes, ’n klip- en sandroete, walle-roete en bergroete vir die dag beplan.
Die eerste groep het stiptelik om 09:00 op hul roete vertrek en kort voor lank was al drie groepe sterk aan die stoei in die tegniese hindernisse. Party het vasgeval en moes eers ’n groot gelag verduur voordat almal ingespring en die gevalle helde uit die moeilikheid gehelp het. Die groot aantrekkingskrag was die sogenaamde pypkarre wat elke moeilike hindernis na kinderspeletjies laat lyk het.
Ná middagete is die hindernisbaan in twee ou damme met lekker steil walle aangedurf. Paaltjies het deelnemers gedwing om ’n sekere roete – wat nie altyd die maklikste was nie – te volg. Daar was skuins walle, oorkruisgate, steil op- en af-paadjies, maar almal was braaf genoeg om te probeer.
Hier het die pypkarre met hul kragtige V8-enjins, groot wiele en behendige bestuurders tot hul reg gekom, en korte mette van die hindernisse gemaak, tot groot vermaak van die ander deelnemers en toeskouers. Almal was asvaal van die stof, maar het elke oomblik terdeë geniet.
Die aand het almal byeengekom in die groot tent waar daar ’n geskenkpak, moontlik gemaak deur borge wat die 4×4-klub ondersteun, vir elke deelnemer was. Elke groep se groepleiers en agterryers het mense in hul groep wat spesiale erkenning moes kry soos beste bestuurder, grapkas en vuilste voertuig, aangewys. Hiervoor is dan ook pryse uitgedeel.
Die aand is afgesluit met ’n gesellige braai om ’n groot kampvuur, en stories is tot laat in die nag uitgeruil.




