2 000 rose teen kanker in Graaff–Reinet.Foto:ELSABÉ PIENAAR


DIE grasperk van die NG Grootkerk in Graaff–Reinet het nog nooit so mooi gelyk soos verlede Vrydag nie.

Die 2 000 lewensgetroue kunsrose is deur die Graaff–Reinet Kankervereniging verkoop om fondse te genereer wat aangewend sal word om praktiese ondersteuning aan plaaslike kankerpasiënte te bied.

Die rose is deur die loop van die dag deur ondersteuners en vrywilligers op die grasperk “geplant” en die see van pienk rose teen die agtergrond van die statige ou kerkgebou was ’n skouspelagtige gesig.

Enigeen wat ’n roos gekoop het, kon ’n ge-liefde wat teen kanker geveg het, se naam op ’n kaartjie aanbring wat aan die roos geheg is.

Dit was ’n bittersoet ervaring om, omring van die roseprag, te besef hoeveel mense onherroeplik geraak is deur kanker.

Volgens die organiseerder Margie Parks, is dié grootse projek nie net deur plaaslikes ondersteun nie.

“Verskeie internasionale groepe toeriste, veral uit Duitsland, het verbygeloop, by die kerk ingedraai en ook rose kom koop.

“Sommige van hulle was baie emosioneel omdat hulle herinner is aan geliefdes in Europa wat ook deur kanker geraak is,” het Parks gesê.

Teen 18:00 was al die rose geplant en die pienk rose was ’n aanskoulike baken van hoop teen kanker.

Tercia Moos van Graaff–Reinet was die ge-lukkige wenner van ’n R5 000 prys nadat opmetings bepaal het dat haar roos naaste aan die “geheime plek” geplant is.

“Dit was ekstra spesiaal dat die prys deur ’n plaaslike kankervegter gewen is,” het Parks gesê.

Die Kankervereniging het hul dank uitge-spreek teenoor al die ondersteuners van die projek en ook aan elkeen wat een van die 2 000 rose geplant het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article