DIE woonbuurt Bezuidenhoutville op Adelaide spog met een van die oudste inwoners in die kontrei.
Die legendariese oom Harry Andrew Douglas se 100ste verjaardag is verlede Vrydag gevier. Vir dié geleentheid is ’n groot koek gebak met versierings wat sy woning en geliefde dikwielfiets uitbeeld.
Oom Harry, wat op Adelaide bekend is as “Dad” is op 20 Maart 1920 in Oueenstraat op die dorp gebore.
Oom Harry het in baie moeilike tye sy standerd 6-sertifikaat in 1937 by die destydse NG-sendingskool op Adelaide verwerf. Hy was die oudste van sewe broers en het na sy skool-loopbaan saam met sy pa in die boubedryf gewerk.
Die Tweede Wêreld-oorlog het oom Harry na plekke regoor die wêreld geneem. Hy was as jongman in lande soos Egipte, Tunisië en in Italië. In een van die veldslae is hy in die been gewond. Vir sy dapperheid tydens dié oorlog is hy met ses medaljes vereer.
Met sy terugkeer na die oorlog is hy op 1 September 1948 met ’n nooi Adriaan getroud en agt kinders is uit die huwelik gebore. Sy wederhelf het hom op 5 Maart 2003 ontval. Hy spog tans met 16 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.
In sy dae was oom Harry ’n kranige rugbyspeler en het op heelagter vir sy dorpspan uitgedraf. Hy het in 2011 as faktotum by Adelaide-hospitaal uit diens getree.
Die VGK-kerk in samewerking met die Presbiteriaanse kerk het die afgelope Vrydag ’n dankseggingsdiens by oom Harry se huis gehou ter viering van sy 100ste verjaardag. Saterdag het sy familie vir hom partytjie gehou.
Ten spyte van “Dad” se ouderdom is sy verstand nog redelik helder en sy sig nog goed. Dis net sy gehoor wat redelik afgestomp is.




