Vertel ons meer van jouself en jou werk met Heavenly Promise, veral in die Bredasdorp-gemeenskap? HP48 het in 2005 in Vredendal begin en dienste aan kinders op straat en families gelewer. In 2013 het ons na Bredasdorp verhuis en die Kaap Agulhas-munisipaliteit het ’n gebou – oorspronklik vir ’n skuiling – geadverteer. HP48 was die enigste organisasie wat aansoek vir die gebou gedoen het en verskeie vergaderings en voorleggings het plaasgevind voordat die gebou vir mishandelde vroue en kinders aan ons toegeken is. Daar het alles begin. Dit was ’n lang proses en Afrimat en die destydse burgemeester, Richard Mitchell, het gehelp met die voorsiening van die meubels. Alle ander het ons “gebedel” en uit my huis geneem. Ek moet nou lag, want op ’n dag toe my man, Dean, iets soek en na ’n spesifieke gordyn vra, toe moes ek bieg en sê dit is by HP. Sy antwoord was, “Hoe kan ek nog soek?”
Bredasdorp is al deur gewelddadige moord op verskeie vroue en kinders geruk. Hoe staan jy die slagoffers se naasbestaandes by en hoe raak dit jou as mens? Die gemeenskap of die familie kontak my of HP en dan sal ons onmiddellik die familie ondersteun en die nodige hulp verleen en na die betrokke maatskaplike werker verwys.
Anene Booysen se skrikwekkende moord in 2013 het internasionale opskrifte gehaal en politici het groot beloftes gemaak om hierdie tipe geslagsgebaseerde geweld aan te spreek. Is enige van hierdie beloftes al ooit nagekom? My ondervinding na jare is ja, die samewerking en die bereidwilligheid het verbeter. Die belangrikste is kommunikasie tussen almal en die relevante departemente.
Ná Anene se dood is verskeie inisiatiewe soos die opleidingsentrum en skaatsplank-park op die been gebring. Dink jy dit maak ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap, veral wat GBV, dwelm- en drankmisbruik betref? Die skaatsplank-park is fenomenaal, maar ons kinders benodig skaatsplanke en volhoubare opleiding en toesig is belangrik. Ek weet ’n paar skaatsplanke is geskenk. Die Anene Booysen-sentrum is in gebruik en funksioneer, so in my persoonlike hoedanigheid is ek dankbaar vir dié sentrum. Ek dink egter die sentrum kan baie meer doeltreffend benut word indien volhoubare kursusse rakende ouervaardighede vir jong moeders en vir diegene wat sukkel om ’n verhouding met hul kinders op te bou, ook daar aangebied word.
Wat sou jy sê is die grootste tekortkominge wat maatreëls betref om hierdie sosiale euwels nie net aan te durf nie, maar dit te voorkom en/of stop te sit? Mense moet begin praat as hulle van iets weet, soos die geval van die 27-jarige man van Bothasig wat in hegtenis geneem is nadat sy 55-jarige ma se keel na bewering afgesny is. As jy die artikel lees, kom jy agter mense het onraad vermoed. Ek sê altyd HP48 is soos ’n “spieël” vir sekere mense, want hulle “sien” hulself en verkies om nie naby HP te kom nie. As jy weet van iemand wat mishandel word of betrokke is by misdaad en dwelms, meld dit anoniem aan, maar moenie stilbly nie. Ons moet onthou geweld, die mishandeling van vroue en kinders, moord en verkragting kom oral voor, maar die verskil is baie van ons steek dit weg, veral as dit gesiene mense is. Mense is geneig om te praat, maar die oomblik as dit formeel aangemeld moet word, dan wil niemand dit sommer “op papier sit” of by die aangeleentheid “betrokke raak” nie.
As ons breër kyk, word genoeg gedoen om slagoffers van GBV en/of die naasbestaandes van hierdie soort geweldsmisdade by te staan en te sorg dat hulle die nodige hulp kry? Ons land benodig regtig baie meer maatskaplike werkers, sielkundiges en veral psigiaters. As ek net na Bredasdorp kyk met ons bevolking en psigiatriese gevalle wat in die strate loop en waarvan ons van weet, is die tekort aan psigiaters ’n krisis. Ons ondervinding is dat die psigiater tans een keer per kwartaal kom en mense kry nie ná 13:00 ’n afspraak nie. As ek as ’n leek berekeninge doen van die sessies, kan dit ’n maksimum van ongeveer vyf pasiënte wees wat die psigiater van 09:00 of 10:00 tot 13:00 kan sien, en dit is eintlik ‘scary’ met al ons gevalle. Ons benodig ’n voltydse plaaslike psigiater.
Wat sou jy sê kan nog ten opsigte van psigiaters gedoen of verbeter word? Ek beklemtoon weer eens die tekort aan psigiaters, want as gevolg van Tik en ander dwelms wat drug induced psychosis veroorsaak, benodig ons hulle, want hulle kan die regte medikasie vir die staatspasiënte voorskryf. Die staatsdokter sien die pasiënte en doen verwysings, maar psigiaters is die antwoord. Ons mishandelde vroue benodig definitief ook psigiatriese hulp omdat hulle lang tydperke van mishandeling verduur. Baie vroue is ook as kinders gemolesteer of verkrag en het nooit behandeling of berading ontvang nie. Dikwels wend hulle hulle dan tot dwelms en drank om van die trauma te ontvlug. Ons kan getuig van drug induced psychosis. Ons is nie ’n rehabilitasiesentrum nie, maar as ’n vrou mishandel word en sy gebruik dwelms, moet sy gehelp word. Die maatskaplike werkers help uitstekend met die verwysing na rehabilitasiesentrums, maar dan sukkel ons met die ellelange waglys en lang wagtydperk vir dié rehabilitiasiesentrums. Indien iemand nou bereid is om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan, behoort daardie persoon nie nog drie weke of meer as ’n maand te wag omdat die nodige hulpbronne skraps is nie.





