As dit kom by die welstand van die dorp, was Carin Havenga die voorbok – jy het haar by vergaderings, rugbywedstryde en ander geleenthede gesien en as iets positiefs in Grabouw gebeur, kon jy maar vir seker weet Carin sit daaragter.
Dié geliefde inwoner van Grabouw het nie geskroom om haarself laaste te stel om die inwoners van Grabouw op te hef nie, hetsy dit is om brandslagoffers te help, of om kos vir die veiligheidspersoneel in te samel.
Die hele dorp is Vrydag tot stilstand geruk deur haar skielike heengaan.
“Dit was ’n groot skok vir ons almal toe ons hoor die ystervrou is Vrydag op 62 skielik oorlede. Dis iemand wat ’n groot impak in almal met wie sy in aanraking gekom het, se lewe gemaak het,” het ’n inwoner gesê.
Carin se betrokkenheid in die gemeenskap het geen perke geken nie. Nie net het sy as buurtwaglid die buurt 24 uur beman nie, maar sy was ook betrokke by die belastingbetalersvereniging, deel van die admin van verskeie WhatsApp- en Facebook-groepe en as daar elektrisiteits- of munisipale probleme was, het sy nie op haar laat wag om die probleem so gou moontlik aan te pak en oplossings te vind nie.
Selfs die onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, John Michels, het op Facebook gesê: “ ’n Groot boom het geval . . . As onderburgemeester kan ek vandag sê die hele gemeenskap het jou liefgehad. Jou omgee vir jou gemeenskap het dit met jou betrokkenheid gewys. Jy het jou alles vir Grabouw gegee. Jy laat ’n leemte wat niemand sal kan vul nie. Ons gaan jou mis.
“Carin het nog so baie planne vir Grabouw gehad om dit ’n beter plek te maak. Ek wil ’n beroep op alle leiers doen dat ons hande vat en Carin se drome vir Grabouw waar maak. Sy het ’n visie vir Grabouw gehad wat Grabouw ’n beter en mooier plek vir ons almal sal maak. Carin, al het ek soms met jou gestry, kan ek jou verseker ek het die grootste bewondering vir jou gehad. By jou het ek geleer wat commitment is. By jou het ek geleer wat dit is om jou hart in ’n saak te sit. Jy was in baie opsigte ’n spesiale mens. Dankie vir wie en wat jy was.”
Almal, jonk en oud, kan ’n staaltjie vertel oor hoe hulle Carin geken het of hoe sy hulle gehelp het, en die talle inskrywings op Facebook is ’n stille getuienis hiervan.
“Sjoe, Carin, jou ou grapjas, kan nog steeds nie glo dat jy ons so vinnig verlaat het nie. Het baie mooi herinneringe van ons kinderdae. Jy het net die vermoë gehad om ’n mens te laat lag, want jy het ’n ding gesê soos hy is . . . eerlik en opreg. Dis hoe ek jou altyd sal onthou. Rus in vrede, my vriendin,” het iemand op Facebook geskryf.
Die bekende gemeenskapsaktivis van Grabouw, Isabel Bailey, het ook op Facebook geskryf: “Jy het my hart in stukke, maatjie; ek voel leeg sonder jou; wou jou nooit laat gaan . . .”
Die spore wat sy in die gemeenskap getrap het, gaan nie ongesiens verby nie en van die inwoners is dit ook eens dat ’n gedenksteen vir dié merkwaardige vrou by die ingang van Grabouw geplaas moet word. “I believe that we should create a memory stone at the entrance of Grabouw at Orchard, in honor of Carin,” is op een van die vele WhatsApp-groepe waarby Carin betrokke was, geskryf.
Carin laat haar man, Deon, dogters Carlin Groenewald en Leandri Roelofse, seun Tiaan, skoonseuns Gerhard Groenewald en Johann Roelofse en vier kleinkinders agter. Haar gedenkdiens vind op 15 Februarie om 15:00 by die NG kerk in Grabouw plaas.





